OUDTSHOORN NUUS - Die Vryheidsfront Plus en die DA het gisteraand, 21 Augustus, 'n gesamentlike verklaring uitgereik waarin Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus sê dat hulle en die DA in gesprek was om die koalisies in die Wes-Kaap te bespreek.
Die verhouding tussen die VF Plus en die DA het skipbreuk gely na die VF Plus saam met die oposisieparty (ANC) gestem het om Chris Macpherson, voormalige Oudtshoorn DA-burgemeester, uit die stoel te lig. Hierdie aksie het nasionaal golwe gemaak en die koalisie tussen die VF en DA is by drie munisipaliteite, waarvan Oudtshoorn een is, verbreek.
'n Regering van plaaslike eenheid is op Oudtshoorn gestig en Johan Allers (VF Plus) is toe as burgemeester gekies, Suzane Jansen (PA) as speaker en Zoë Tyatya (ANC) is as onderburgemeester aangewys.
Die verklaring
Luidens Groenewald se verklaring van gisteraand het hy en DA-leier John Steenhuisen, 'n gesprek gehad en hulle daartoe verbind om Wes-Kaapse koalisies te stabiliseer.
Volgens hom stem die partyleiers saam dat "die wankelrige plaaslike ANC-koalisieverhoudings" tot nadeel van die onderskeie gemeenskappe is en het hulle ooreengekom dat koalisies waarvan die partye deel is, gestabiliseer moet word.
Volgens Groenewald behels hierdie ooreenkoms ook onder meer dat hy met die federale en provinsiale leierskap van die DA sal vergader.
"Insette van plaaslike leierskap van geraakte munisipaliteite sal ook ingesamel word om die oorsprong van die probleme te identifiseer en spoedig op te los. Die partye is daartoe verbind om te verseker dat koalisies in die Wes-Kaap en ander provinsies gestabiliseer word om gemeenskappe te dien en dienslewering sowel as goeie munisipale bestuur te verseker."
Dit is ook duidelik gemaak dat gesprekke nou op nasionale vlak geskiet en nie meer plaaslike vlak nie.
Situasie op Oudtshoorn
Na aanleiding van die verklaring wat gisteraand uitgereik is het Oudtshoorn Courant navraag gerig aan die onderskeie partye om uit te vind of die huidige situasie in Oudtshoorn moontlik kan verander.
Die reaksies was uiteenlopend.
Volgens Mark Burke, DA-kiesafdelingshoof vir Oudtshoorn, sal daar insette vanaf die Oudtshoorn-munisipale raad gevra word oor die situasie en uit daardie insette sal hulle geskille probeer peil en oplossings soek.
Burke het gesê dat daar nog nie 'n vaste antwoord op Oudtshoorn se toekoms is nie, maar het beklemtoon dat die DA en VF Plus se gesamentlike persverklaring "daarop dui dat plaaslike ANC-gebaseerde koalisies nie betroubaar is nie".
Volgens hom hoop hulle dus die plaaslike span van die VF Plus sien die lig en beweeg weg van die ANC.
"Oor die hele Suid-Afrika het die ANC eenvoudig nie op plaaslike vlak die vermoë ten toon gestel om diensbaar te wees teenoor inwoners nie. Dit is ook algemeen aanvaar dat die ANC-regerings van die verlede in Oudtshoorn uiters onbetroubaar was."
Dr. Corné Mulder, VF Plus-kiesafdelingshoof in die Wes-Kaap, sing egter 'n ander deuntjie. "Die verhoudinge binne die regering van plaaslike eenheid in Oudtshoorn is gesond en beslis nie wankelrig nie. Daar het ook niks skipbreuk gely nie," aldus Mulder.
Volgens hom is daar ook nie 'n koalisie tussen die VF Plus en ANC nie, maar 'n regering van plaaslike eenheid waaraan verskeie partye in Oudtshoorn deelneem.
Mulder sê verder daar is sewe ander koalisies in die Wes-Kaap tussen die VF Plus en die DA.
"Hierdie verklaring is 'n poging om daardie koalisies te bestendig. Daar is drie ander munisipaliteite waar koalisie-ooreenkomste beëindig is en die poging is om in belang van daardie gemeenskappe stabiliteit te verseker. Niks het in Oudtshoorn verander nie. Die regering van plaaslike eenheid sal voortgaan om in die beste belang van al die inwoners van Groter Oudtshoorn op te tree."
- 'n Navraag is ook aan die ANC en PA gestuur en hul terugvoer sal bygewerk word wanneer dit ontvang word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’