OUDTSHOORN NUUS - Drie politieke partye met raadslede in die Oudtshoorn-munisipaliteit, het Dinsdagaand 'n samewerkingsooreenkoms met die Patriotic Alliance (PA) van Gayton McKenzie onderteken om tydens die 2024 nasionale en provinsiale verkiesing onder die vaandel van die PA aan die verkiesing deel te neem.
Die leiers van die Oudtshoorn Gemeenskap Inisiatief (OGI) Pieter Safers, Saamstaan Suid-Afrika, Sebastiaan Gelant, en Dysselsdorp Advieskomitee, Leon Campher, het tydens die vergadering die redes vir hul besluit om met die Patriotic Alliance saam te werk gegee.
Volgens die partye is die besluit in belang van hul mense geneem wat na 30 jaar steeds aan die agterspeen suig.
McKenzie het in sy toespraak gesê sy party se uiteindelike doelwit is om die hele Wes-Kaap oor te neem en in Oudtshoorn te begin.
Volgens hom is die DA en die ANC albei korrup. Die een is 'n tier en die ander 'n leeu en sy boodskap aan die mense van Oudtshoorn is dat die tyd vir verandering op die dorp aangebreek het.
"Mense sê ons kan nie saamwerk nie, maar wat vandag hier gebeur, is 'n bewys dat ons kan en ons gaan seker maak daarvan. Ons kinders moet ook die voordele kry wat ander mense se kinders kry. Ons mense in Oudtshoorn ly onder die DA en ons gaan seker maak dat dié blou duiwel padgee uit ons midde."
McKenzie het toegegee dat dit nie 'n maklike besluit vir die drie Oudtshoorn-partye was om saam met die PA te werk nie en dat hulle met die grootste respek behandel sal word en op die uitvoerende struktuur van die PA sal dien.
"Die PA behoort aan almal van ons en daarom die besluit om saam te werk en seker te maak ons neem die mag oor. Nie net vir een ras, maar vir alle rasse."
McKenzie het beloof dat hy die eerste maand na die einde van sy termyn in April as burgemeester van die Sentraal Karoo na Oudtshoorn sal kom en dat "die ding gaan ruk".
"Ek het alles in die Karoo gedoen wat ek belowe het om te doen en gaan kom om te help om verandering in Oudtshoorn te weeg te bring. Ons wil die DA in die provinsie uit die kussings lig. Ons kom Oudtshoorn oorvat, die plek verander en die burgemeester kan solank sy tasse pak," het McKenzie gesê.
Volgens Leon Campher van die Dysselsdorp Advieskomitee, was hy tydens Sondag se erge reën in Oudtshoorn geskok om te sien onder watter omstandighede mense in informele woonbuurte in Oudtshoorn woon.
"Ons kan nie verder met die DA en ANC saamwerk nie Hulle het hul kanse gehad om die dorp te regeer en gefaal. Ons is die meerderheid in Oudtshoorn, maar dit is ons mense wat die swaarste kry."
Volgens Campher het hy besluit om saam met die PA te stap en seker te maak dat sy mense die voordele trek wat hulle verdien.
"Ek het nie die besluit in belang van myself geneem nie, maar vir my gemeenskap."
Pieter Safers van OGI het in sy toespraak gesê die rede vir sy party se besluit om in samewerking met die PA te gaan, is omdat hulle dieselfde oogmerke deel.
"Ons het daarom besluit om vir die 2024-verkiesing saam met die PA te werk om te kyk hoe ons die Wes-Kaap ten volle kan dien."
Sebastiaan Gelant van Saamstaan Suid-Afrika sê hy is trots om by die PA aan te sluit.
"Ons het net een doel, en dit is om die DA uit die Wes-Kaap te haal. Kom ons sit ons verskille eenkant. Die DA verryk net hulself en ons word net armer en armer. Ek is nie hier vir rykdom nie. Die mense daar buite is honger," het Gelant gesê.
Volgens Colin Sylvester, 'n oudburge-meester van Oudtshoorn en OGI-raadslid, het die tyd vir nuwe regering in die Wes-Kaap aangebreek.
"Mense kan nie meer in toilette vir wonings leef nie. Ons moet seker maak dat ons mense in waardigheid leef."
McKenzie het aan die einde die drie partye geloof vir hul besluit om in belang van hul gemeenskap met die PA saam te werk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'