OUDTSHOORN NUUS - Die DA-koalisievennote, Vryheidsfront Plus, SA Saamstaan en Icosa het Maandag 3 Junie tydens 'n spesiale raadsvergadering saam met die ANC, teen die goedkeuring van die begroting gestem. Daarenteen het drie opposisiepartye, OGI, PA en Advieskantoor saam met die DA vir die begroting gestem.
Vlancio Donson (Icosa) se voorstel dat die begroting hersien moet word is deur die meerderheid raadslede ondersteun en sal die goedkeuring van die begroting nou Vrydag 7 Junie, weer ter tafel gelê word.
Demokratiese Alliansie (DA)
Burgemeester en DA-raadslid, Chris Macpherson, het sy kommer uitgespreek ten opsigte van die begroting wat nie goedgekeur is nie en gewaarsku dat die munisipaliteit die gevaar loop om nie die voorgeskrewe finansiële wetgewing na te kom nie.
"Hierdie vergadering moes al 31 Mei plaasgevind het, maar is toe uitgestel, nou moet ons selfs nog langer wag. Optredes soos hierdie kan dienslewering aan die gemeenskap erg benadeel. Dit is vir my duidelik dat politiekery in Oudtshoorn eerder as dienslewering deur die VF Plus en die ander koalisievennote voorgestaan word. Die VF Plus het reeds met die aanvang van die proses oral verkondig dat hulle teen die begroting gaan stem. Dit is tragies dat hulle nie aan al die voorafgaande begrotingsbeplanningsessies deelgeneem het en voor die begroting met voorstelle gekom het nie.”
Macpherson het verduidelik dat Artikel 139 van die munisipale finansiële bestuurswet in werking kan tree indien die begroting nie Vrydag goedgekeur word nie. Die toepassing van Artikel 139 kan daartoe lei dat die munisipaliteit onder administrasie geplaas kan word.
“Ek hoop van harte dat die partye voor Vrydag op verantwoordelike wyse na die begroting sal kyk en die kundigheid besef waarmee amptenare dit opgestel het. Dit is dieselfde amptenare wat baie hard gewerk het om aan Oudtshoorn ‘n skoon oudit te gee. Ek vertrou dat die partye Vrydag ‘n besluit sal neem wat sal verseker dat die munisipaliteit volhoubare dienslewering aan die gemeenskap sal kan lewer en nie politieke of persoonlike agendas sal reflekteer nie.”
Vryheidsfront Plus
Johan Allers, speaker en VF-raadslid het voor die bespreking van die begroting afgestaan van sy speakerstoel om deel te neem aan die debat. Colin Sylvester (OGI) en Macpherson het kapsie gemaak teen hierdie versoek van Allers omdat dit volgens hulle 'n "gevaarlike" president in die toekoms kan skep vir toekomstige speakers wat volgens raadsaalreëls nie aan debatte mag deelneem nie. Allers se verweer was dat hy nie beoog om voortaan aan debatte in die raadsaal deel te neem nie. Barbara Owen het tydelik as speaker waargeneem.
Allers het gesê dat die belasting-implikasies van die begroting ten opsigte van eiendomskoerse en besighede buite proporsie massief is, wat volgens hom direk 'n effek op die arm man gaan hê. "Daar is soveel maniere om te bespaar in die munisipaliteit soos byvoorbeeld petrol en advertensies in die media om 'n paar te noem. So in beginsel kan ons nie vir die goedkeuring van die begroting stem nie."
Allers het bygevoeg dat die VF Plus nog nooit saam met die ANC gestem het nie, maar slegs gestem het op 'n item van die raad. "Dit is elke party se reg om te stem waar hy wil."
African National Congress (ANC)
Die ANC se hoofsweep, Zoe TyaTya, het gesê dat dit verrassend en noemenswaardig is dat die DA-koalisie nie werk nie. "Dit is tot nadeel van die belastingbetalers en die inwoners van Oudtshoorn. Ons is van mening dat hierdie koalisie se tyd verstreke is en dat hulle almal hul kantore behoort te ontruim."
TyaTya gesê dat die verhoogde belastingkoerse meer as inflasie verhoog is en daarom het hulle teen die begroting gestem.
"Ons mense daarbuite sal hierdie buitensporige verhogings eenvoudig nie kan bekostig nie en dit sluit die werkersklas in. Ons is van mening dat daar alternatiewe maniere gevind moet word om geld te spaar in die munisipaliteit."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’