Update
OUDTSHOORN NUUS - Nog geen prosesse is in plek om die Kannaland-munisipaliteit onder administrasie te plaas nie.
Inwoners van Kannaland het Woensdag 6 Junie 'n brief ontvang, wat deur die uitvoerende burgemeester Magdalena Barry onderteken is, waarin sy verklaar dat sy aangevra het om die dorp onder volle administrasie te plaas.
Om haar besluit te ondersteun moet 'n spesiale raadsvergadering gehou word, waarin 'n meerderheid van die raadslede ten gunste van Barry se besluit moet stem. Dié vergadering sou Donderdag 7 Junie plaasvind, maar is 'n uur voor dit moes begin tot verdere kennisgewing uitgestel. Volgens die brief het Kannaland-munisipaliteit vir die "afgelope 12 tot 13 jaar finansiële probleme ondervind en is die munisipaliteit reeds twee keer onder administrasie geplaas". In Desember 2016 is die dorp deur minister Anton Bredell, onder gedeeltelike administrasie geplaas en die munisipaliteit het toe ook 'n finansiële herstelplan ingevolge die intervensie aanvaar.
"Die skaal van wanbestuur, bedrog en korrupsie wat die vorige administrasie gekenmerk het, het ons verplig om gedurende 2016 'n volledige forensiese ondersoek aan te vra," lui Barry se brief. Volgens haar het dit uit dié ondersoek geblyk dat finansiële wanbestuur van R15 miljoen gepleeg is en kriminele klagtes is gelê.
Sy sê verder dat die huidige raad met die 2016-verkiesing die munisipaliteit met R69 miljoen se skuld oorgeneem het, maar dat hulle sedertdien daarin kon slaag om 'n groot deel van die skuld af te betaal.
Ian Avontuur, Barry se woordvoerder, het Woensdag 13 Junie gesê: "Alhoewel die munisipaliteit se finansiële status beter lyk, is die raad na die 2016 munisipale verkiesing met finansiële probleme gelaat wat ons net nie kan ontsnap nie."
Barry voer aan dat administrasie en ingryping op nasionale vlak die enigste opsie is om finansiering vir belangrike projekte te bekom.
Barry is steeds in die burgemeesterstoel, na ANC se provinsiale uitvoerende komitee Dinsdag 25 Mei haar en die ander ANC-raadslid, Phillipus Antonie, skriftelik in kennis gestel dat hulle hul samewerkingsooreenkoms met die twee DA-raadslede voor of op 31 Mei moet opsê.
Avontuur het bevestig dat Barry en Antonie 'n skriftelike opdrag ontvang het om hulle ooreenkoms met die DA te staak. Tot op hede het hulle nog nie gehoor gegee aan die opdrag nie. "Vir nou sal hulle in hul poste aanbly en Barry gaan nie haar burgemeesterskap opsê nie. Daar sal eers bepalende raadsvergaderings moet plaasvind," het Avontuur gesê.
Lees 'n vorige artikel: Volle administrasie dalk vir Kannaland
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'