OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-burgemeester Johan Allers het verlede Donderdag sy eerste begrotingsrede tydens 'n algemene raadsvergadering gelewer. Hier het hy die mediumtermyn-inkomste- en -uitgaweraamwerk (MTRF) vir 2025/26 ter tafel gelê.
"Hierdie begroting is beide realisties en kontantgesteun, 'n beduidende prestasie wat ons in staat stel om kwaliteit dienste te lewer sonder 'n tekort of om swaar lenings aan te gaan."
Allers het verder gesê toe hy verlede jaar burgemeester was, het hy dit gedoen met 'n vaste verbintenis om nie net die lewens van inwoners te verbeter nie, maar ook om die langtermyn- finansiële lewensvatbaarheid van die munisipaliteit te herstel.
Volgens hom sal hierdie begroting werksgeleenthede bevorder en dit is gebaseer op goeie, bekostigbare dienslewering en maak voorsiening vir die instandhouding en verbetering van noodsaaklike infrastruktuur.
Belangrike hoogtepunte van die begroting sluit in:
Bedryfsbegroting
- Totale bedryfsinkomste: R1,067 miljard (9.45% toename van vorige jaar)
- Totale bedryfsuitgawes: R1,083 miljard
- Bedryfstekort: R16,4 miljoen
- Rekeningkundige surplus (insluitend kapitaaltoelaes): R25,8 miljoen
- Verwagte kontantsurplus: R163 miljoen
- Herstel- en onderhoudstoewysing:
- R32 miljoen (3.2% van totale uitgawes)
- Paaie: R7,2 miljoen
- Elektrisiteitsnetwerk: R6,4 miljoen
- Water- en rioolnetwerke: R5,9 miljoen
- Grootmaat aankope: R315 miljoen (29% van bedryfsuitgawes), sterk beïnvloed deur Eskom se 11,32% elektrisiteitsprysverhoging
Munisipale tariewe
- Eiendomsbelasting: 6% verhoging
- Elektrisiteit: 13% (onderhewig aan finalisering deur Nersa)
- Water: 0% gemiddelde verhoging (basiese koste herstruktureer, insluitend nuwe basiese koste vir voorafbetaalde meters)
- ullisverwydering: 12% verhoging (nog nie ten volle kosteweerspieëlend nie)
- Riool: 6% verhoging
Die algehele verhoging in munisipale rekeninge sal wissel tussen 10% en 11%, hoofsaaklik as gevolg van elektrisiteit en vullisverwydering. Sonder elektrisiteit is die verhoging ongeveer 6%. Die munisipaliteit se kliëntediens-, kredietbeheer- en skuldinvorderingsbeleid word jaarliks hersien, met insluiting van terugvoer van openbare betrokkenheid en interne belanghebbendes.
Kapitaalbegroting
- Kapitaalbegrotingstoekenning: R81 miljoen - die hoogste in drie jaar.
- Finansieringsbronne: Voorwaardelike toelaes, lenings en beperkte eie inkomste.
Fokusareas vir 2025/26:
- Waterinfrastruktuur: Kritieke opgra-derings word beplan om aanhoudende pypbarste en wateronderbrekings aan te spreek, veral in Dysselsdorp, De Rust en Oudtshoorn.
- Afvalbestuur: Deurlopende betrokkenheid met belanghebbendes vir koste-effektiewe en volhoubare vaste afvaloplossings.
Allers het inwoners gerusgestel oor die munisipaliteit se finansiële bestuur, en verwys na hul indrukwekkende rekord van skoon en ongekwalifiseerde oudits oor die afgelope paar jaar.
"Daar word verantwoordelikheid geneem vir elke sent waarvoor begroot is. Onder die leiding van die Regering van Plaaslike Eenheid [GLU] het ons korrupsie, wanbestuur en die misbruik van openbare fondse uitgeskakel.
Ons is daartoe verbind om te verseker dat belastingbetalers se geld ten goede van die gemeenskap aangewend word - nie vir politici nie," het Allers gesê.
Die raad het, ingevolge Artikel 24 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur [MFMA] en Artikel 75A van die Munisipale Stelselswet, die begroting, tariewe, diensvlakstandaarde en lang-termynskuldooreenkomste goedgekeur.
'n Bedrag van R28,45 miljoen is geoormerk vir die finansiering van infrastruktuurprojekte. Die konsepdienslewerings- en begrotings-implementeringsplan [SDBIP], sowel as die verkrygingsplan, is ook bekragtig.
Lees die burgemeester se volledige begrotingsrede hier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’