LADISMITH NUUS - Politiek in Kannaland is allesbehalwe voorspelbaar. Met slegs enkele maande oor voor die komende munisipale verkiesing, het die ANC glo besluit om beduidende veranderinge aan sy politieke samestelling in die munisipaliteit aan te bring.
Volgens ANC-raadslid Nicolaas Valentyn het hy en Leoni Stuurman, ook 'n ANC-raadslid, briewe ontvang waarin aangedui word dat die ANC die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in kennis gestel het van voorgenome wysigings aan die party se huidige proporsionele lys.
Valentyn sê die brief dui aan dat die ANC beoog om die huidige proporsionele raadslede, Anthony Ewerts, Bradley Benades en Dorothy Gelant, te vervang met Aletta Jooan, Elvis Ntlebi en Marlene Siegelaar.
Valentyn beweer verder dat hy en Stuurman deur die ANC versoek is om te bedank.
"Ek kan nie bedank nie, aangesien geen behoorlike prosesse gevolg is nie. Ek het ook nie 'n amptelike skrywe ontvang wat bevestig dat ons as proporsionele lede vervang is nie," het Valentyn gesê.
Stuurman het bevestig dat sy ook nie vooraf oor enige veranderinge aan die proporsionele lys ingelig is nie, maar wel versoek is om haar pos te ontruim.
"Ek is nie van plan om te bedank nie. Daar is geen rede waarom ek moet bedank nie," het sy gesê.
Thandi Makasi, koördineerder van die ANC se Provinsiale Taakspan, het by navraag gesê dat dit interne ANC-aangeleenthede is. Sy het bygevoeg dat die party tans op 'n tussenverkiesing fokus.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’