Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Burgemeester Chris Macpherson is vanmiddag tydens ‘n Oudtshoorn-raadsvergadering as burgemeester uitgestem.
Oudtshoorn Courant het berig dat Zoë Tyatya, hoofsweep van die ANC, mosies teen burgemeester Chris Macpherson (DA), onderburgemeester Vlancio Donson (Icosa) en speaker Johan Allers (VF Plus) ingedien het.
Die mosie teen Donson het nie gedien nie, aangesien hy bedank het nadat hy as onderburgemeester by die Tuinroete-distriksmunisipaliteit aangestel is.
Volgens die agenda sou die mosie van wantroue teen die speaker eerste dien. Die speaker het egter die raad onkant betrap en nie die mosie teen hom eerste laat dien nie. Macpherson het beswaar hierteen gemaak aangesien die hoofsweep van die raad, sowel as die ander lede van agendapunte en die verandering van die agenda ingelig behoort te word.
Zoë Tyatya Foto: Liezl van Niekerk
Allers het egter aangevoer dat hy by magte is om die besluit te neem.
Gevolglik het Macpherson se mosie eerste gedien.
Macpherson het sterk kapsie gemaak teen die ANC se aantygings van oneerlikheid en onwettige optrede teen hom en het dit duidelik gestel dat hy die ANC en enigiemand anders wat saam met die ANC vir die mosie op dié voorwaardes sou stem, strafregtelik sou aanvat.
Tyatya het drie van sy punte in die mosie onttrek.
Vyftien raadslede, drie van die VF+, sewe van die ANC, twee van die PA, een van Good, een van Advieskantoor en een van OGI, het vir die mosie gestem. Sewe lede van die DA en een van Saamstaan het daarteen gestem. Raadslid Barbara Owen en raadslid Vlancio Donson het buite stemming gebly.
Kort na Macpherson as burgemeester uitgestem is, het Allers die vergadering verdaag en behoort die vergadering binne sewe werksdae hervat te word.
Sekere items wat moes dien, het nie. Van die items was die verkiesing van ‘n nuwe burgemeester en onderburgemeester.
Barbara Owen. Foto: Liezl van Niekerk
Volgens Macpherson sou Owen waarnemende burgemeester wees luidens ‘n raadsbesluit wat ongeveer ‘n jaar gelede geneem is in die afwesigheid van ‘n burgemeester en onderburgemeester.
“Ons is nie afwesig nie, daar is eenvoudig nie ‘n burgemeester of onderburgemeester nie. Daar is ‘n vakuum. Vir haar om onderburgemeester te wees moes die burgemeester – ek - die pligte aan haar oorteken, maar ek is reeds uitgestem. Niemand het ‘n nuwe burgemeester gekies nie en niemand het pligte oorgeteken nie.”
Macpherson het gesê dat daar talle vergaderings tussen die koalisievennote was om die situasie te probeer beredder.
“Maandag het almal van ons met ons leiers vergader, maar die VF+ het geweier om saam te werk as ek nie verwyder word nie. Die koalisie is al ‘n geruime tyd op ‘n mespunt en het die VF+ reeds ses keer teen ons in vergaderings gestem. Dit is hierdie tipe magsbehebtheid wat ons munisipaliteit en dorp skade laat ly,” het hy na die raadsvergadering aan Oudtshoorn Courant gesê.
Luidens 'n verklaring van die VF+ se Corné Mulder het al die koalisiepartye dit duidelik gemaak het dat "die aard en omvang van bewerings van magsmisbruik en wangedrag deur die ongewilde burgermeester van so ‘n aard is, dat dit ononderhandelbaar geword het dat Mcpherson as burgermeester aanbly en verwyder moet word."
Volgens hom het die DA tydens die onderhandelinge aangedui dat niemand aan hulle sal voorskryf wie hulle burgermeester moet wees nie waarna die ander koalisie-vennote hulle meegedeel het dat die DA ook nie aan die Raad kan voorskryf wie hulle as burgermeester moet verkies nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’