NASIONALE NUUS - Die Nasionale Seereddinginstituut (NSRI) het Sondag bekend gemaak dat die Panacea-seiljag met die oorskot van die 60-jarige man aan boord gesink het, terwyl hulle besig was om dit na die Mosselbaai se hawe te sleep.
Dit volg ná 'n uitgebreide soek-en reddingsoperasie deur die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa), die NSRI en die Suid-Afrikaanse Lugmag, na die seiljag en die seiljagvaarder, sedert laas week.
Die seiljag met die man se liggaam aan boord, is Saterdag deur die NSRI se reddingspan gevind. Reëlings is getref om die seiljag na Stilbaai te sleep waar provinsiale forensiese patologiedienste op die seiljag sou klim en die liggaam van die man sou verwyder.