NASIONALE NUUS - Die nuwe Onteieningswetsontwerp gee groter duidelikheid oor onteiening, volgens ’n mediaverklaring deur Agri SA.
“Die Onteieningswetsontwerp staan nie heeltemal los van die huidige debat oor die wysiging van artikel 25 van die Grondwet nie, maar kan in wese die politieke oplossing bied wat ook regsekerheid bring,” sê Annelize Crosby, hoof van Agri SA se Grond Sentrum van Uitnemendheid.
Die wetsontwerp is pas deur die minister van openbare werke vrygestel, en daarin stel dit voor dat die volgende eiendomstipes sonder vergoeding onteien kan word:
- Grond in staatsbesit of in besit van staatsondernemings;
- Grond wat deur huurarbeiders beset word;
- Grond wat deur ‘n eienaar abandoneer is;
- Grond wat bloot vir spekulatiewe doeleindes gehou word; en
- Grond waarvan die markwaarde gelykstaande of minder is as die huidige waarde van direkte staatsinvestering of subsidie in die aankoop of kapitale verbetering van die grond.
“Agri SA bly gekant teen onteiening sonder vergoeding (OSV),” sê Crosby. “Ons ondersteun die beginsel dat eienaars nie slegter of beter af kan wees na onteiening nie, maar in dieselfde posisie moet bly asof geen onteiening plaasgevind het nie.”
Dié weergawe van die Onteieningswetsontwerp is die derde en is bedoel om groter regsekerheid te bring as meer as 200 bestaande wette wat onteiening toelaat.
“Die nuwe bewoording in die Onteieningswetsontwerp gee ‘n diskresie om sekere tipes grond te onteien, maar die bepaling is nie gebiedend nie. Die klousule is ook duidelik dat alle relevante omstandighede in ag geneem moet word voordat daar tot so 'n stap oorgegaan word.”
Volgens Crosby is Agri SA veral bekommerd oor die onteiening van grond wat deur huurarbeiders beset word omdat huurarbeider-eise kompleks is en die meeste van die eise is nog nie verifieer nie. “Die eintlike probeem met hierdie huurarbeider-eise is dat die Huurarbeiderwet nooit na behore implementeer is nie.”
Agri SA is ook bekommerd oor die definisie van “onteiening” soos in die nuut-vrygestelde wetsontwerp vervat. “Die definisie beperk die term onteiening tot gevalle waar die staat die eiendom verkry, maar dit is te eng en uit lyn met internasionale tendense waar onteiening in ‘n breër konteks verstaan word. ‘n Eng definisie hou die gevaar in dat die staat allerlei beperkings op eiendomsreg kan plaas sonder om die eienaar te vergoed.”
Volgens Crosby sal Agri SA skriftelike kommentaar op die wetsontwerp indien en aktief aan al die konsultasie-prosesse deelneem. Die wetsontwerp sal waarskynlik eers teen 2020 op die wetboeke verskyn.