NASIONALE NUUS - Die Wetsontwerp op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings, ook bekend as AARTO, is deur die parlement goedgekeur en aan die president voorgelê om as wet onderteken te word.
Blade Nzimande, minister van vervoer, het Maandag 8 April tydens die amptelike afskop van die 2019 Paasfees-padveiligheidsprogram in Pietermaritzburg, van die aspekte in die wet uitgelig.
Die strafpuntstelsel sal die owerhede toelaat om oortreders te identifiseer, te rehabiliteer en uiteindelik van die pad te verwyder. Die bestuurder begin met 0 punte en wanneer hy 12 punte teen hom het, word sy rybewys tydelik opgeskort. Wanneer dit drie keer opgeskort is, is hy sy lisensie kwyt.
Die wet maak voorsiening vir die elektroniese en posaflewering van oortredingskennisgewings, asook die opname van hierdie kennisgewings in 'n Nasionale Padverkeersoortredings-register, asook die oplegging van boetes en 'n oortredingstribunaal om dié oortredings te hanteer.
Volgens Nzimande word die wet reeds by AARTO-diensstasies by sommige lisensietoetsstasies in Gauteng toegepas. Dit sal hopelik persone wat by die kantore rondhang wat bestuurders wil 'help' om lisensies te bekom of boetes te laat 'verdwyn', uitskakel. Die maatreël sal landswyd uitgebrei word en elke motorbestuurder sal dan persoonlik vir sy padgedrag aanspreeklik wees.
Die minister het 'n beroep op motoriste en wetstoepassers gedoen om hulself te weerhou van omkopery of korrupsie en verkeersbeamptes wat hulle hieraan skuldig maak, sal gearresteer word; dit geld ook vir diegene wat vervalste rybewyse en padwaardigheidsertifikate uitreik. Die publiek kan omkopery en korrupsie by die tolvrye nommer 086 1400 800 of per e-pos by ntacu@rtmc.co.za aanmeld.
Die nuwe blaasalkoholtoets (EBAT) is ook tydens die geleentheid bekendgestel. "Die gebruik van tegnologie sal ons help om die nasionale padveiligheidstrategie toe te pas. Geregistreerde verpleegsusters sal by alle padblokkades waar die alkoholvlak van motoriste getoets word, teenwoordig wees, wat daartoe sal lei dat geen bestuurder wat drink en bestuur arrestasie sal vryspring nie."
Volgens die minister kos motorongelukke Suid-Afrika jaarliks sowat of R162 miljard, of 3,4% van die bruto binnelandse produk. "Indien alle padgebruikers by die verkeersreëls hou, sal dit die land baie geld spaar wat eerder aan infrastruktuur, onderrig en opleiding, en gesondheid bestee kan word."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'