NASIONALE NUUS - Paul Colditz, uitvoerende hoof van Fedsas (federale raad vir skoolbeheerliggame), het vanoggend na 'n navraag van die Oudtshoorn Courant gesê dat 'n foto wat tans op sosiale media versprei word oor die gelydelike infasering van skole, nie waar is nie.
"Die inligting is gelek uit 'n voorlopige en vertroulike plan van die Departement van Basiese Onderwys (DBO). Dit het geen amptelike status nie, aangesien alle planne wat deur die DBO ontwikkel word, eers deur die Departement van Gesondheid goedgekeur moet word en dan daarna deur die Kabinet.
"Daarna sal die Minister 'n amptelike aankondiging doen. Alles is dus in wese op hierdie stadium fopnuus tot 'n amptelike aankondiging gedoen is."
Volgens Colditz het President Cyril Ramaphosa met die verlenging van die tydperk van inperking aangedui dat inperking stelselmatig uitgefaseer sal word en dat die inperking, om praktiese redes nie eensklaps vir almal opgehef sal word nie.
"Ons kan dus verwag dat terugkeer skole toe ook ingefaseer sal word en planmatig sal moet plaasvind. Op hierdie stadium is daar nog genoeg opsies om agterstallige skoolwerk in te haal en die kurrikulum vir vanjaar te voltooi, as almal sal fokus op die kernbesigheid van skole – die akademie - en buitekurrikulêre aktiwiteite soos sportbyeenkomste, kultuur- en sosiale aktiwiteite ingekort of afgeskaf word.
"Skoolure kan ook doelmatig aangepas word. Daar is ook 'n moontlikheid dat vakansies ingekort word (nie afgeskaf nie) en die kalender sinvol aangepas word. Onnodige eksamens kan geskrap word."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'