Update Video
SUID-KAAP NUUS EN VIDEO - Eden-speaker en DA-lid Mark Willemse is gister in 'n verassende wending tydens 'n spesiale raadsvergadering as burgemeester van Knysna ingestem. Die DA (2), ANC (7), Cope (1) en 'n verteenwoordiger van die KUC (Knysna United Congress) het saamgespan om Eleanore Bouw-Spies uit die stoel te lig.
Bouw-Spies is met 11 stemme teen een as burgemeester uitgestem, nadat die ANC-raadslid Victor Malosi 'n mosie van wantroue in die burgemeester ingedien het. Die DA bly egter aan bewind en is dit nie ‘n bewindsoorname nie.
Agt DA-raadslede en twee koalisieparty-raadslede ('n onafhanklike en 'n ACDP-raadslid) het die vergadering tydens die verrigtinge verlaat. Twee oorblywende DA-raadslede, Willemse en Peter Myers, het saam met die res ‘n kworum gevorm en ten gunste van die mosie gestem, terwyl die Knysna-speaker, Georlene Wolmarans, ook 'n DA-raadslid, teen die mosie gestem het. Willemse is as burgemeesterskandidaat deur DA-raadslid Peter Myers aanbeveel, en is gesekondeer deur die ANC-hoofsweep Mertle Gombo. Elrick van Aswegen (Cope) is tans die onderburgemeester en Georlene Wolmarans (DA) is steeds die Knysna-speaker.
Wes-Kaapse DA-leier Bonginkosi Madikizela het sy misnoeë oor die nuutste wending uitgespreek. Hy en die party se streeksvoorsitter, Jaco Londt, is oppad na Knysna om met die DA-koukus te vergader.
Kyk 'n video hieronder:
Londt bevraagteken die wetlikheid van hierdie skuif. Hy het gesê die prosedures is foutief hanteer. “Twee DA-raadslede het besluit om vir ‘n ANC-mosie van wantroue in die Knysna-burgemeester te stem. Hierdie skuif is nie alleenlik verraad aan die DA nie, maar is hoogverraad aan die mense van Knysna,” het Londt gesê.
“Geeneen van hierdie raadslede het die beste belange van die mense in gedagte gehad, vir wie hulle dien, toe hulle hierdie besluit geneem het nie. Hulle was kortsigtig en het net aan hul eie belange gedink. Die DA sal onmiddellik stappe neem om die situasie reg te stel sodat ons kan voortgaan om ‘n wêreldklas diens aan die mense van hierdie munisipaliteit kan lewer.”
Gewetensbesluit vir die dorp
Willemse het aan die George Herald gesê hy het nog nie as Eden-speaker bedank nie, en sal oor die naweek uitvind hoe die provinsiale DA-leiers die saak verder wil hanteer. "Daar sal nog onderhandelinge met die provinsiale DA-leierskap die naweek plaasvind want die DA het sekere prosesse wat nagekom moet word,"het hy gesê.
"Ek is 'n lojale DA-lid. Hierdie was 'n gewetensbesluit. Die DA is steeds aan bewind, in koalisie met Cope. Ons het nog nie 'n burgemeesterskomitee gekies nie."
Willemse het gesê hy en Peter Myers het hul posisies in gedrang gesit, maar hulle voel dit is 'n opoffering in die belang van hul dorp. Met Bouw-Spies aan die stuur was dinge glo besig om handuit te ruk. "Daar was 'n gebrek aan leiding in beide die politiek en op munisipale front," het Willemse gesê.
"Die DA is besig om stemme in die dorp te verloor en onder die leierskap van die vorige burgemeester het die dorp daaronder gelei. Ons het die munisipaliteit bo party-politiek geplaas om dinge reg te ruk. Ons het nou ‘n kans om die dorp om te draai en na die belange van die mense te luister en aandag te gee aan wat belangrik is vir die dorp. Knysna is op 'n ander groeipatroon want ons probeer steeds uit die vure van laasjaar vorentoe beweeg. Ons moet die dorp help groei. Ons moet saamwerk as ‘n gemeenskap en as ‘n raad."
Volgens Willemse sal die dorp se infrastruktuur dadelik aandag moet kry. Hy beklemtoon die belang van toeganklike paaie vir toerisme, waarvan die dorp afhanklik is, en waterbesparing.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'