NASIONALE NUUS - Die man wat ‘n egpaar wreed met ‘n mes in hulle huis in Centurion vermoor het nadat hy hom as ‘n potensiële huiskoper voorgedoen het, is gister twee keer lewenslange gevangenisstraf opgelê vir die moord op ‘n 47-jarige egpaar.
Parys Gazette berig die hof het Raymond Steven Jan-Erick Smith (37) van Proklamasieheuwel (in die weste van Pretoria) ook ‘n bykomende drie jaar tronkstraf vir poging tot moord op die egpaar se minderjarige seun, en agt jaar tronkstraf vir poging tot roof met verswarende omstandighede, opgelê.
Die vonnisse sal gelyklopend met die lewenslange vonnis uitgedien word.
Smith is verder onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Beplande aanval op gesin
Die tragiese gebeure op 27 Januarie vanjaar het gevolg nadat Smith die huis van R2.7m van die seun se bejaarde grootouers in ‘n aanlyn advertensie geadverteer gesien het. Die advertensie het verskeie televisies en elektroniese toestelle vertoon wat sy aandag getrek het.
Smith het toe die eiendomsagent gekontak onder die voorwendsel dat hy ‘n moontlike koper is. Hy het die huis in die Lyttleton-woonbuurt op 16 en 20 Januarie gaan ‘besigtig’.
Op 27 Januarie is hy om 18:00 die aand ‘n derde keer na die huis – die keer met die doel om die egpaar te beroof.
Bejaarde grootouers aangeval
Toe die bejaarde 74-jarige oupa van die seun die deur oopmaak, het Smith hom aangerand, na die toilet geforseer en sy hande met ’n kabelbinder vasgemaak. Die bejaarde man se 71-jarige vrou wat die lawaai gehoor het, het ondersoek gaan instel, maar Smith het haar oorweldig, vasgebind en rubberballe in beide van hulle se monde gedruk.
Die egpaar se seun en sy vrou, wat op dieselfde perseel gewoon het, het die geskree gehoor en die huis binnegestorm. Smith het hulle met ’n mes aangeval en albei noodlottig gewond ten aanskoue van hul 16-jarige seun wat hulle te hulp wou snel, en toe self ook deur Smith gewond is.
Die seun kon egter onsnap en het homself in sy slaapkamer toegesluit en hulp ontbied.
Smith het gevlug maar is die volgende dag, 28 Januarie, by sy woning gearresteer terwyl hy sy bebloede klere probeer was het.
Staat soek swaar straf
Lumka Mahanjana, die streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag se Gauteng-afdeling: Pretoria, sê Smith het skuld erken en om ’n ligter vonnis gepleit. Advokaat Lawrance More, vir die staat, het egter suksesvol vir lewenslange gevangenisstraf geargumenteer.
Hy het beklemtoon dat die moorde vooraf beplan is, dat Smith verskeie geleenthede gehad het om sy plan te laat vaar, maar steeds voortgegaan het, en dat die slagoffers in hul eie huis vermoor is – ’n plek waar hulle veilig moes wees.
Die hof het ook slagoffer-impakverklarings oorweeg, gefasiliteer deur hofvoorbereidingsbeampte Lebogang Lebese.
Die 16-jarige seun het die ernstige trauma wat hy ervaar het, onthul, insluitend dat hy van skole moes verander wat sy akademiese prestasie nadelig beïnvloed het.
Sy oupa wat oorleef het, het drie weke in die hospitaal deurgebring en is steeds onbeweeglik weens sy beserings, sê Mahanjana.
Die regter het beslis dat daar geen wesenlike en dwingende omstandighede was om ’n ligter vonnis te regverdig nie.
Die waarnemende direkteur van Openbare Vervolging, Advokaat Marika Jansen van Vuuren, het advokaat More en speurder Konstabel Ronald Ravele van die Lyttleton-polisiestasie geloof vir hulle toewyding wat die skuldigbevinding en vonnis van ’n man verseker het wat onskuldige mense uit gierigheid vermoor het.
Mahanjana het bevestig dat die NVG se Eenheid vir Bateverbeuring ’n bewaringsbevel bekom het vir Smith se 2011-model Nissan X-Trail, ter waarde van R65 000, wat gebruik is tydens die misdade.
Die name van die slagoffers en oorledenes word nie genoem nie om die identiteit van die minderjarige seun te beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’