NATIONAL NEWS - ’n Reuse luislang het onlangs ‘n gesin se hond gevang op ‘n plot net buite Phalaborwa in Limpopo.
Oud-Middelburger Fanie Strydom vertel aan Middelburg Observer hoe hulle moes bontstaan om ‘n Suider-Afrikaanse rotsluislang van 3.5m te vang en weer veilig los te laat. Strydom was lank die ondervoorsitter van die Middelburg Herpetologiese Vereniging.
Hy het breedvoerig vertel hoe hy en Carel Jonker al hulle kennis moes toepas om dié sterk slang in moeilike omstandighede moes vang en later losgelaat het.
Strydom bly tans in Phalaborwa waar hy die voorsitter is van hulle herpetologiese vereniging. Jonker is die ondervoorsitter.
Strydom vertel dat hulle gekontak is deur Kallie Kruger op ’n plot sowat 8km buite Phalaborwa.
Daar is boerbokke, eende en hoenders op die plaas. Kruger het vertel dat die slang iets gevang het.
Hy het aanvanklik gedink dit is een van sy bokke wat gevang is, want toe hy die oggend die hek oopmaak het die bokke vreemd opgetree en wou nie uit die kamp uitgaan nie. Hy het rondgesoek aan die buitekant van die bokke se kamp en die luislang tussen die bamboesbosse gewaar.
“Hy het vir my gesê ek moet iemand saambring, want dit is ’n groot slang. Ek het vir Carel saamgevat,” vertel Strydom.
Die luislang van 3.5m kort nadat hy losgelaat is. Foto: Verskaf
Dit was omtrent ’n onbegonne taak om die slang te vang. “Na seker so 20 minute se stoei in die bos, het die slang opbeweeg in die bamboes en geklim. Daar het ek besef as ons hom nie nou vang nie, gaan ons hom verloor en hy gaan buite bereik wees.”
Strydom het tussen die bamboese deurgedruk en ’n kans gevat en hom agter sy kop gegryp. “Ek het eers ’n selfie geneem terwyl ons bo tussen die bamboes gekoek was,” sê hy laggend.
Jonker het ombeweeg waar Strydom vir hom die kopkant aangegee het om hom veilig te laat sak en in die houer te kry. “Ons was albei papnat gesweet want dit was 40°C met ’n baie hoë humiditeit.”
Op daardie tydstip het hulle nog gedink dit is ’n bok wat die knewel van ’n slang gevang het. Hulle was bang dat hy sy vangs sou opbring en het hom toegemaak in die houer, ‘om stres minder te maak vir die slang’.
Fanie Strydom is saam met die slang in die bamboesbos verstrengel.
Carel Jonker met die luislang nadat hy hom aangevat het by Fanie Strydom.
Hulle moes vinnig ’n plan beraam waar om die slang los te laat en Jonker se vrou, Olive, het begin soek vir ’n geskikte plek vir die slang.
“Terwyl ons gesoek het vir ’n nuwe tuiste, het ek die slang na my huis toe gevat waar ons hom in die kamer gesit het onder die lugverkoeling, sodat hy nie sou oorverhit nie.”
Die Mosambiekse spoegkobra in die toilet wat die manne en Olive gaan vang het.
Kort daarna het hulle toestemming gekry om die slang op ’n wildsplaas tussen die klipkoppies en ’n dam los te laat, waar hy maklik sal aanpas.
- Daar is intussen verneem dat al die bokke in die kamp is en dat Kruger se hond weg is, wat ’n aanduiding is dat die slang die hond gevang het.
- Die manne was nog besig om die slang los te laat, toe hulle gekontak is deur ’n lodge in die omgewing met inligting dat daar ’n slang in een van die toilette is. Nadat daar met spesiale kameras ondersoek ingestel is, het hulle die boonste deel van die toilet verwyder en die slang, ’n Mosambiekse spoegkobra, verwyder.
- Strydom-hulle het verlede week ook ’n Mosambiekse spoegkobra gevang.
Olive en Carel Jonker en Fanie Strydom kort nadat hulle die Mosambiekse Spoegkobra gaan vang het.
Read original story on www.citizen.co.za
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’