OUDTSHOORN NUUS - Die diensverskaffer, Bidvest Services en Bidvest Prestige, het die mobiele toilette-saga verder geneem met 'n aansoek in die Wes-Kaapse hooggeregshof teen onder meer Top-Loos Sanitation en die Oudtshoorn-munisipaliteit. Individue wat in die aansoek genoem word is Phillip Olivier, Leon Campher, inwoners van die wonings in die informele woonbuurte, Clive Fortuin, Jolin Loggenberg en Brenton Draai.
Dit volg na inwoners van Black Joint in Bongolethu verlede week die mobiele toilette omgegooi en aan die brand gesteek het. Hulle het vroeër die maand reeds begin om hul ontevredenheid teenoor Bidvest se dienste, en die feit dat die munisipaliteit weer die kontrak aan hulle gegee het uitgespreek. Inwoners is van mening dat Bidvest-toilette nie op standaard skoongemaak word nie en dit 'n gesondheidsrisiko inhou.
Die stryd oor die mobiele toilettenders kom reeds van 2021 af en inwoners eis dat die tender aan Top Loos toegeken moet word. Bewerings van swak dienslewering, korrupsie, asook intimidasie word gemaak teen die maatskappy.
Die aansoek moet Vrydag 23 Julie voor die hof dien.
Interdik
Volgens die interdik wil Bidvest 'n voorlopige bevel bekom om toe te sien dat Top-Loos, asook plaaslike gemeenskapsleiers onder geen omstandighede met inwoners van die informele nedersettings in Oudtshoorn mag skakel of inmeng nie. Verder word versoek dat bewerings wat gemaak word deur die betrokke partye onmiddellik gestaak word. Dit sluit in dat Bidvest die munisipale tender op onderduimse maniere bekom het, dat hul mobiele toilette nie gediens word of op standaard is nie, dat klagtes van swak diens op dowe ore val, en dat mobiele toilette vuil, beskadig en van swak kwaliteit is. Enige plasings, asook kommentare op sosiale media moet ook volgens hul versoek onmiddellik gestaak word. Hul voer verder aan dat alle bewerings wat teen hul gemaak word, vals is.
In die interdik doen Bidvest 'n beroep op die respondente om op 'n latere datum in die hof te verskyn en redes aan te toon, indien enige, waarom die bevel nie finaal gemaak moet word nie.
In die dokument maak hulle ook melding van die feit dat hulle vanaf 1 Julie 2024 to 30 Junie 2027 nie werksgeleenthede vir inwoners in die Oudtshoorn-streek gaan gee nie.
Leon Campher
Een van die gemeenskaps-leiers, Leon Campher, is volgens sy interdik gevra om al sy plasings rakende die Bidvest- kwessie van sosiale media te verwyder. Volgens hom rus die onus op die burgemeester van Oudtshoorn-munisipaliteit om die brandende kwessie op te los.
"Die inwoners is nou al van 2021 af ongelukkig oor dienslewering van Bidvest, die munisipaliteit is in besit van al die klagtes wat ek deur die jare ingedien het. Ons gaan Donderdagoggend, 25 Julie, 'n vreedsame optog na die Oudtshoorn-munisipaliteit hou waar ons 'n petisie aan die munisipale bestuur gaan oorhandig."
Top-Loos
Top-Loos het aangedui dat hulle nie op die stadium kommentaar oor die kwessie gaan lewer nie. Daar is egter gerugte dat die tender wel vroeër die jaar aan Top-Loos toegeken is, maar dat Bidvest kapsie gemaak het teen die tenderproses wat gevolg is. Die tender is toe wel aan Bidvest toegeken. Hierdie bewerings kon egter nie bevestig word nie.
So sê die munisipaliteit
Aurelia Mle, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit het as volg reageer: "Die tender vir die verskaffing en diens van mobiele toilette is aan Bidvest toegeken na aanleiding van die onttrekking van Top-Loos. Hierdie besluit volg op 'n proses van noukeurige oorweging en evaluering om doeltreffende dienslewering vir die gemeenskap te verseker."
Volgens Mle het amptenare van die departement menslike nedersettings met inwoners van Black Joint op 8 Julie ontmoet en in gesprek getree.
" n Klein groepie inwoners, insluitend voormalige werkers van Bidvest, menslike nedersettingsbestuurder Lauren Jones, en wyksraadslid Zoe Tyatya was teenwoordig om die inwoners se kommer aan te spreek."
Hulle het inwoners aange-moedig om met Bidvest saam te werk, en enige teenstrydighede in dienslewering aan te meld.
"Indien die publiek enige klagtes het, word hul versoek om dit skriftelik by hul onderskeie wyksraadslede in te dien, waarna dit dan na die departement menslike nedersetting gestuur sal word vir optrede."
Mle sê verder dat Bidvest sal voortgaan om dienste aan 20 informele woongebiede binne groter Oudtshoorn-omgewing te lewer, wat voorsiening maak vir meer as 1 900 strukture wat mobiele toilette benodig.
"Die diensverskaffer is verantwoordelik vir die verskaffing, huur, plasing, diens en instandhouding van draagbare, nie-spoelende chemiese BBP-toilette. Deur hierdie vennootskap poog die munisipaliteit om sanitasiedienste regoor die munisipaliteit te verbeter. Die Groter Oudtshoorn-munisipaliteit bly daartoe verbind om die lewenskwaliteit vir al sy inwoners te verbeter en doeltreffende dienslewering te verseker."
Volgens Hannes Visser, burgemeester Chris Macpherson, se woordvoerder is die Bidvest-kwessie 'n administratiewe aangeleentheid wat tans deur die munisipale bestuurder, Walter Hendricks, en senior bestuur hanteer word.
Bidvest
Teen saktyd is geen kommen-taar van Bidvest ontvang nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’