Gallery
MOTOR NUUS - Op 10 Februarie is dit weer tyd vir motors wat geraas maak by George se ovaalbaan by die skouterrein.
Die byeenkoms word tradisioneel saam met die jaarlikse oumotorskou aangebied.
Heelwat motors is reeds ingeskryf in die sewe klasse wat aangebied word.
Ek het so bietjie tussen die manne rondgevra en daar is heelwat nuwe karre wat ingeskryf gaan word.
Ons hoop almal sal betyds gereed wees om op die baan te verskyn.
Ek het 'n splinternuwe, nuutgeboude BMW in die Heavy Metal-klas opgespoor - die van Corné Oosthuizen.
Hy het sy ou BMW laat aftree en 'n splinternuwe 5-reeks BMW in Desember gebou toe die res van ons vakansie gehou het.
Die motor lyk pragtig.
Dan is daar ook 'n groot verrassing te wagte in die Gemodifiseerde V8-klas. Ons gee 'n leidraad: 'n bekende en gewilde renjaer sal die seisoen begin met `n splinternuwe Chev flexi. Autodealer voorspel: hier kom 'n ding!
Van Oudtshoorn-motorklub het ek gehoor van drie nuwe hitsmotors en 'n nuwe motor in die 2,1-Klas. Wie en wat dit is, sal ons maar moet wag om te sien.
Charl Walters van George-motorklub het my ook vertel dat ons in George twee nuwe 2,1-klas motors sal sien met twee splinternuwe renjaers.
Verskeie van die bekende renmotors sal ook in nuwe baadjies getooi wees.
Hendricus Botha gaan die Engelse aanvat met sy vinnige Opel Corsa in die 2,1-klas. Foto's: François Germishuys
Dus kan ons net herhaal: hier kom 'n ding en dit sal op 10 Februarie by die George-ovaalbaan gebeur.
Hekke open 12:00 en die wedrenne begin om 19:00. Toegang is R60 vir volwassenes en R20 vir kinders.
Die ander groot gebeurtenis is 'n "toets " as ons dit so kan noem. Wedrenne tussen SA en Engeland sal op die ovaalbaan plaasvind.
Die wedrenne word oor twee naweke in Tygerberg, Kaapstad aangebied.
'n Engelse span kom jaag in twee klasse teen die SA span.
Op 17 Februarie ding SA teen die Engelse mee in die 2,1-klas en die naweek daarna op 24 Februarie, ding hulle mee in die Hitsmotorklas.
Die eerste kykie na nuwe karre vir die 2018-seisoen was dié nuwe BMW van Corné Oosthuizen.
In die SA 2,1-klas se span is vier SWD-renjaers opgeneem. Hendricus Botha en Burger van der Westhuizen is van die Oudtshoorn-klub.
Van die George-klub is dit Alistair Simpson en Christopher Burisch.
In die SA hitsmotorspan is Clive Meyer van George ook in die span opgeneem.
Autodealer wens die SA spanlede alle sukses toe met hulle deelname. Bring die silwerware terug SWD toe!
ARTIKEL: FRANCOIS GERMISHUYS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'