MOTOR-NUUS - Oor 'n koffietjie saam met oom Hugo Truter in die Langeberg Mall in Mosselbaai, noem hy dat hy net buite Hartenbos op die Oudtshoorn-pad 'n klomp VW kewers op 'n groot perseel langs die pad sien staan het, en nie een van ons weet iets van die plek nie.
Net daar besluit ek: kom ons gaan vind uit!
Ek ry uit en sien die Beetle Odds and Ends-perseel is gepak met sowat 80 kewers, kombi`s en duinebesies - ek het selfs 'n VW Puma onder 'n boom opgemerk.
Daar ontmoet ek vir Chris en Trudie Coetzee, die eienaars. Chris restoureer al sedert sy skooldae motors en as oud-Drostdyer het hy lank op Worcester Volkswagens gerestoureer.
Sowat drie jaar gelede het hy en Trudie besluit om hulle VW-restourasie projekte vanaf Stellenbosch na Mosselbaai te skuif.
Trudie vertel dat hulle in 2006 begin het om kewerparte te verkoop, maar na hulle iemand gehelp het om weer sy ou kewer op die pad te kry, is Beetle Odds and Ends gebore.
Die restourasiegogga het gebyt!
Die kewers wag om 'n nuwe baadjie aan te trek.
Van duinebesies tot kewers word herbou.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'