MOTORNUUS - Soos aanvanklik gevrees, was Desember verlede jaar se verkope laer as dié van Desember 2017. Nuwe voertuigverkope het op 39 984 eenhede te staan gekom wat 767 eenhede, of 1,9% minder was as in Desember 'n jaar gelede.
Die verkope van passasiersmotors was 26 547, terwyl nuwe ligte handelsvoertuie na 11 218 eienaars gegaan het. Dit is 'n daling van 7%.
Daar is egter goeie nuus wat die uitvoermark betref. Desember 2018 se totaal het dramaties toegeneem na 31 437 wat 11 330 meer is as 12 maande gelede.
Die gebruiklike top-10-lys het ook verskeie skommelinge ondergaan.
Toyota bly die markleier met 9 038 verkope, maar dis amper 2 000 eenhede minder as die voorafgaande maand. Toyota maak steeds staat op sy topverkoper Hilux (2 907), terwyl 1 027 kopers Fortuners aangeskaf het - heel waarskynlik met die oog op die lang somervakansie.
Volkswagen is steeds tweede met 6 594 verkope en sal nie sy verlies van ook amper 2 000 eenhede aan die groot klok wil hang nie. Volkswagen kan darem steeds spog met die twee topverkopers in passasiersmotors, naamlik Polo (2 051) en Polo Vivo (1 711). Ander presteerders van die mense van Uitenhage was Tiguan met 485 verkope wat beter as Toyota RAV se skraal verkope wat net 410 nuwe eienaars se harte verbly het. Die opskudding van die maand was egter ten opsigte van derde algeheel waar Nissan se 3 906 verkope goed genoeg was om Ford (3 467) na die vierde plek af te skuif.
Nissan se staatmakers was Datsun GO (508) en sy sub-eentonner NP200 waarvan 1 572 eenhede verkoop is. Qashqai (263) en staatmaker X-Trail (216) vaar steeds taamlik goed, terwyl Ford se Ranger met 1 931 verkope dié maatskappy se spreekwoordelike wa deur die drif moes help sleep.
Die ander verrassing onder die toptien was Renault wat met 2 936 verkope die vyfde plek behaal het en plekke geruil het met Hyundai (2 839). Renault se sterre was Kwid (1 354), Clio IV (775) en Sandero II (449). Hyundai se presteerders was Grand i10 (906) en i20 met 619 verkope.
Die oulike nuwe Kona het 118 nuwe eienaars gekry, terwyl Tucson maar gesukkel het met 'n beskeie 294 verkope teenoor Volkswagen se Tiguan en Toyota se RAV. Sonder om te berig oor individuele modelle, het BMW (1 583) in die sewende plek ingeskuif - 'n merkwaardige prestasie ná November se tiende plek.
Isuzu (1 369) het een plek afgeskuif tot agtste – ondanks D-Max (593) en KB met 420 verkope, terwyl Kia (1 159) ook een plek ondertoe moes tree, maar darem nog binne die toptien-rangorde danksy Picanto (508), Rio (304) en Sportage met 'n indrukwekkende 208 verkope.
Die tiende en laaste plek word gevul deur Mazda (1 131) danksy veral CX-5 (389) en CX-3 met 293 verkope.
Van die invoerders en monteerders wat buite die toptien val, is dit opmerklik dat Mercedes-Benz (996) die eerste keer in jare nie die lys gehaal het nie, terwyl Bentley (13), Porsche (112) en Suzuki Auto (929) 'n groot indruk gemaak het.
Veral Suzuki se nuwe Jimny (113) sou sekerlik nog baie beter vertoon het as daar beskikbare voorraad was.
Datsun GO.
Ander vervaardigers wat ook aandag getrek het, sluit in:
Volvo (258) met XC60 (109) en XC40 (54) as uitblinkers – wat weer bewys dat Suid-Afrikaanse kopers groter sportnutse verkies. Die bedryf gaan egter steeds onder druk bly en 2018 se groottotaal van 365 246 passasiersmotors en 159 452 ligte handelsvoertuie sal vanjaar waarskynlik effe minder wees.
Toptien-passasiersmotors
- Volkswagen Polo - 2 051
- Volkswagen Polo Vivo - 1 711
- Renault Kwid - 1 354
- Toyota Fortuner - 1 027
- Hyundai Grand i10 - 906
- Toyota Corolla/Auris/Quest - 858
- Renault Clio IV - 775
- Hyundai i20 - 619
- Datsun GO - 508
- Kia Picanto - 508
Toptien ligte handelsvoertuie
- Toyota Hilux - 2 907
- Ford Ranger - 1 931
- Nissan NP200 - 1 572
- Toyota Quantum 1 - 245
- Isuzu D-MAX - 593
- Nissan NP300 - 439
- Isuzu KB - 420
- Volkswagen Amarok - 323
- Hyundai H-100 - 215
- Toyota Land Cruiser Pick Up - 201
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'