Video
MOTORNUUS EN VIDEO - Carmag het al verskeie kere verduidelik hoe om sirkels te "navigeer", en hierdie week, na 'n paar nare ervarings op die pad, spel ons dit weer duidelik uit.
Daar is verskeie tipes sirkels en vir nuwe en selfs sommige gesoute bestuurders is 'n minisirkel of verkeersirkel verwarrend en kan dit lei tot padwoede en ongelukke.
Die belangrikste verskil tussen 'n minisirkel en 'n verkeersirkel is wie eerste toegang het tot die sirkel.
Bestuurders wat 'n minisirkel nader moet die interseksie binnegaan in dieselfde volgorde waarin hulle by die toegeelyn aangekom het.
Dit beteken dat jy nie die toegeelyn moet kruis voor die ander voertuig wat voor jou by die toegeelyn gekom het aanbeweeg het nie. Die beginsel van 'n vierrigtingstop geld hier en die eerste by die lyn het voorrang.
Indien jy 'n verkeersirkel nader, word aankomende verkeer van regs binne die sirkel voorrang gegee.
Die gebruik van die korrekte seine is uiters belangrik en dit is meer as bloot wenslik om stadig naby en in 'n sirkel te beweeg.
So maak mens
1. Draai na links 90° - eerste uitgang
Om links te draai en die eerste uitgang te neem, sit jou linkerflikkerlig aan wanneer jy die verkeersirkel nader.
By die verkeersirkel moet voertuie wat van regs in die sirkel jou nader, voorrang geniet.
Bly in die linkerbaan en hou links in die verkeersirkel terwyl jy die eerste uitgang na links neem.
Hou jou linkerflikkerlig aan om te wys jy gaan die verkeersirkel links verlaat.
Verlaat dan die verkeersirkel links en na jy uit die sirkel beweeg het, maak seker jou flikkerlig is af.
2. Gaan reguit - tweede uitgang / draai regs - derde uitgang
Kies die geskikte baan wanneer jy die verkeersirkel nader.
By twee bane hou jy in die regterbaan en indien daar drie bane is kan die middelste of die baan aan die regterkant gekies word. Indien daar nie gemerkte bane is nie, is dit die veiligste om heel regs te bly.
Om reguit aan te gaan of die tweede of derde uitgang te neem sit jy jou regterflikkerlig aan wanneer jy die verkeersirkel nader. Wanneer jy die toegeelyn bereik moet jy toegee vir voertuie van regs wat reeds in die sirkel van die regterkant af aankom.
Indien geen voertuie jou van regs af nader nie, is dit jou beurt om die sirkel binne te gaan.
Bly in die gekose baan totdat jy by jou uitgang kom. Sit net na die laaste uitgang voor jou gekose uitgang jou linkerflikkerlig aan om aan te dui dat jy die sirkel gaan verlaat.
Maak egter seker daar is nie 'n stommeling wat in die linkerkantste baan ry en wil reguit gaan nie - dan gaan hy of sy NIE ook die sirkel by jou gekose uitgang verlaat NIE, en gaan die voertuig jou voertuig 'afsny'.
Laat die persoon dan reguit aanry en verlaat die sirkel. Maak seker jou flikkerlig is af as jy veilig op koers is.
3. Om 360° om te draai
Kies die regterbaan wanneer jy die verkeersirkel nader en volg dieselfde prosedure as om reguit aan te gaan of regs te draai.
VIDEO - Gebruik van 'n verkeersirkel:
So word 'n verkeersirkel gebruik.
'n Verkeersirkel.
'n Minisirkel.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'