TUINROETE | KAROO NUUS - Familie, vriende en medewerkers is diep geskok oor die skielike dood van 'n bekende inwoner, fotograaf en motorskrywer van George, Francois Germishuys (60).
Hy is Woensdagaand, 18 Mei, in die Karl Bremer-hospitaal in Kaapstad oorlede nadat hy 'n paar dae vroeër 'n massiewe beroerte gehad het.
Hy is op Vrydag 13 Mei vir behandeling na die hospitaal geneem. Sy toestand het egter agteruitgegaan. Francois en sy eggenoot, Chanelle, was in die Kaap, waar hulle by sy skoonouers gekuier het.
Hy het gereeld bydraes vir Carmag en ander publikasies van Group Editors gelewer. Hy het in die verlede ook bydraes vir Die Burger verskaf.
In 'n stadium het hy 'n prys gewen vir sy joernalistieke bydraes as motorskrywer en het 'n uitstekende kennis van motors en motorsport gehad. Sy berigte was uniek aangesien hy 'n baie persoonlike aanslag gehad het en met kinderlike entoesiasme geskryf het oor renne en mense.
Germishuys kom van Worcester waar hy destyds sy loopbaan in die polisie begin het.
Hulle was oorspronklik vier kinders, Amanda (Fourie), die oudste suster, Pieter, wat ‘n paar jaar gelede oorlede is, Francois en sy suster Wilma (Slabbert). Sy pa, Frans Germishuys (90) leef nog.
'n Roudiens is Dinsdag by die NG kerk Brackenfell-Wes gehou. Francois word ook oorleef deur sy vrou Chanelle, ‘n seun, Eugene, ‘n skoondogter en 'n kleinkind.
Sedert die nuus van sy afsterwe bekend geword het, het verskeie mense op sosiale media hul skok en medelye uitgespreek.
Ilse Schoonraad, groepsredakteur van Group Editors asook redakteur van Carmag, sê Francois se dood laat 'n groot leemte. "Sy eiesoortige beriggewing oor ovaalbaanwedrenne en interessante gebeure en mense in die plaaslike motorbedryf het aan almal groot genot verskaf. Carmag en ons lesers gaan hom baie mis. Mag sy hemel gevul wees met petrolkoppe, sy geliefde Golf GTI en brullende renmotors."
Francois Germishuys was bekend vir sy aksiefoto's van motorwedrenne. Hierdie foto van George se tydrenjaer, Etienne Malherbe in volle vaart op pad na sy wen in die Overberg Grand Prix, het Francois in April 2019 geneem.
Voel onwerklik
Chanelle het Maandag aan George Herald gesê alles voel nog so onwerklik. Dis 'n groot skok.
Sy het vertel dat Francois sowat drie weke gelede aan haar gesê hy voel nie lekker nie. Hy wou egter nie 'n mediese dokter gaan sien nie.
Volgens haar het hy die laaste tyd baie stres gehad. Aan die begin van Mei het hulle by haar ouers in die Kaap gaan kuier net om bietjie weg te kom van alles. Hy het die besoek baie geniet en was rustig.
Donderdag 12 Mei het hulle nog die Twee Oseane-akwarium by die Waterfront in Kaapstad besoek. Tydens die besoek het hy vir hom 'n miniatuur modelletjie van 'n pikkewyn gekoop. Sy familie het hom altyd Pikkie genoem. Hy het die bynaam as klein seuntjie gekry omdat hy soos 'n pikkewyn geloop het.
Vroeg die volgende oggend het hy 'n beroerte gehad en hy is na die hospitaal geneem waar hy 'n paar dae later oorlede is.
Chanelle sê hulle het mekaar 39 jaar geken en was byna 36 jaar getroud. Sy sê Francois was 'n verskriklike besige mens wat baie vooruit beplan het.
Hy het 'n passie gehad vir fotografie, motors en diere. Hy was veral lief vir katte. Sy skrywery kom van sy skooldae waar hy baie goeie opstelle geskryf het. Sy onderwysers het hom aangemoedig om verder daarmee te gaan.
Later het hy op 'n vryskutbasis vir verskeie publikasies berigte geskryf en foto's geneem. Hy het ook tydens sosiale geleenthede soos troues foto's vir mense geneem.
Chanelle het gesê Francois het 'n sagte hart gehad en omgegee vir mense.
Sy jongste suster, Wilma, het gesê die familie is diep geskok. “Mens verwag nie so iets nie.”
Francois en Chanelle Germishuys.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'