Gallery Video
MOTORNUUS - Mosselbaai het Saterdag 'n eerste beleef. Vyftig supermotors het die strate in die kusdorp pikswart geverf met al die rubber wat hulle neergesit het.
Daytona-motorgroep is die grootste supermotor handelaar in Suid-Afrika en die twee-jaarlikse Daytony Rally was 'n skouspel van motorsport wat nie een petrolkop wou mis nie.
Danksy die organiseerder, Gys van Staden en sy span, is 'n puik byeenkoms aanmekaargesit en 2023 beloof om nog beter wees. Ek hoor 'n voëltjie fluit dat die 2023 Daytona ook aksie op water en in die lug gaan insluit.
Fotogalery: The clock is ticking
Fotogalery: Justworx Daytona Rally
Die tyduitdagings oor 2,5 km in die strate van Mosselbaai sou 13:00 begin het, maar met 'n paar van die supermotor-manne wat bietjie stout was op die paaie by Sedgefield, het die geregsdienaars hulle eers pak gegee, so die hele byeenkoms is vertraag omdat die motors laat was.
Vanaf 18:00 is die eerste motors op die baan gesien en teen 19:00, was die tydtoetse in volle gang, maar natuurlik het die wedrenne toe in 'n nagbyeenkoms verander.
Dis was vreesaanjaend en ongelooflik opwindend om Ferrari's, Lamborghini's, Porsches, McLarens, Audi R8's, BMW's, Mercedes Benz SLS, en tot 'n VW Golf GTI R teen duiselingwekkende snelhede in Georgstraat, waar ek die aksie bekyk het, te sien jaag.
Kyk video's hieronder:
Die vyf toptye was as volg:
1. Ferrari 458 - 01:18.172
2. McLaren 570S - 01:18.945
3. Porsche Turbo S - 01:19.655
4. Audi R8 V10+ - 01:19.907
5. Porsche GT3 - 01:20.124
Die karre wat my ook beïndruk het was die Ferrari 488 - die skree van daai enjin is enig in sy soort. Die Lamborghini's se enjinklanke was indrukwekkend en die McLaren 720S was ook ongelooflik vinnig. Die kar wat die meeste geraas het, was ongetwyfeld die een Mercedes Benz SLS - wonder of daar enigsins 'n uitlaatpyp op daai motor was.
'n Groot teleurstelling was die afwesigheid van die LaFerrari, een van die groot trekpleisters vir toeskouers. Gelukkig het die McLaren P1 wel opgedaag, hoewel laat, maar het ons op ons voete gehad.
Ons groep op die sypaadjie was almal "professionele renjaers" en het probeer onderskei watter drywers die bangste en dapperste om die hoek by George- en Kerkstrate kom. Ons het gekyk waar word eerste gerem en hoe ver gaan hulle deur die draai voor hulle daai rempedaal los. In ons boek was die drywer van die Golf R die dapperste en die bangste man agter die wiel het 'n Porsche bestuur.
Dit was 'n fees van spoed. Ons weet Covid-19 het verhoed dat die strate vol toeskouers was, maar daar was 'n paar oomblikke wat die renne gestop is omdat toeskouers die baan gekruis het terwyl die motors gejaag het. Veiligheid was van hoë gehalte. Die SAPD en baanbeamptes was skitterend en geen ongelukke het voorgekom nie.
Ek glo nie een enkele inwoner van Mosselbaai kon Saterdag voor 22:00 slaap nie, maar wie sou nou wou!
Mosselbaaiers en alle petrolkoppe in die Tuinroete is innig dankbaar vir elke supermotoreienaar wat sy vuurwa gebring het en blootgestel het aan moontlike skade - julle het ons naweek gemaak.
My sitplek is klaar bespreek vir 2023 - op die polisiestasie se gras!
Vier van die spogmotors in die kuipe-area. Van links is 'n Audi Q8, Audi R8, McLaren 720 S en 'n Lamborghini Huracan.
Die konvooi supermotors op pad na die kuipe by die Dias-museum.
Die Golf R het ook saam met die superkarre gaan speel. Die Golf het verstom met sy spoed en die drywer met sy senuwees van staal.
Verwante artikels:
- Rally organiser thanks Mossel Bay
- Daytona: Track opens
- Daytona: The clock is ticking
- Supercars a feast for the eyes
- Kaskarre durf mekaar aan
- Justworx Daytona Rally finally here
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'