MOTOR NUUS - Gedurende Desember is die derde Mossel Bay Wheels Gathering (MBWG) op 'n oop munisipale terrein in Heiderand, Mosselbaai aangebied.
Die breinkind agter die skou is die oudrenjaer Dirk van der Merwe van Pretoria, wat 'n vakansiehuis in Mosselbaai het.
Ek het Van der Merwe op die terrein ontmoet om meer uit te vind.
"Ek het op die idee besluit om die Suid-Kaap se spogwiele bymekaar te kry omdat ek 'n regte 'petrolkop' is," het hy vertel.
"Mosselbaai-munisipaliteit is genader met die idee. Toestemming het na onderhandeling per e-pos gevolg en so is die eerste MBWG in Desember 2016 gehou.
"Dit is nie `n skou nie. Daar word geen uitstalruimtes betaal nie en geen toegangsgeld word gevra nie."
Met min borge vir trofeë en dies meer, het Dirk die eerste byeenkoms so te sê uit sy eie sak aangebied. Hy kon 82 motors uitstal.
Selfs gevestigde skoue in die streek het met veel minder motors afgeskop.
"Weens aanvraag van die publiek moes ons dit weer in 2017 aanbied, maar dié keer met Ravenol Oil as borg.
"Die logistieke probleme om so 'n uitstalling van 1 300 km ver te reël is egter erg vir een mens.
"Die keer kon ons darem 125 motors op die gras kry. 'n Nuwe toevoeging was dat motorverwante stalletjies ook op die terrein toegelaat is, wat baie gewild was."
Selfs met 'n effens klammerige dag op Mosselbaai, het `n groot aantal besoekers opgedaag om na die motors en bakkies te kom kyk.
Die Ford Hotrod was ook baie gewild. Sy V8-enjin loop sysag.
Heelwat veteraanmotors is vertoon, asook luukse driewiel-motorfietse en verskeie Hotrods.
Mens is altyd verstom oor watse pragtige voertuie hier aan die Tuinroete is. In die een hoek was 'n swart Dodge Charger wat al die aandag getrek het met die aanskakelslag van daai V8...
'n Spesiale versameling Renault R8 Gordini's is uitgestal deur Mynderd van den Berg van George.
Vier driewiel-motorfietse was ook te sien. Die verskeidenheid en gehalte van toerusting op die fietse was verbasend.
Van die motors behoort aan hom, maar die meeste het hy vir 'n Amerikaner, Wayne Caldicott, in sy werkswinkel op George gerestoureer.
Hulle sal weer middel Februarie by die oumotorskou in George te sien wees.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'