Bewolkte weer het die wag egter uitgerek en die eerste twee motors het eers heelwat later as die verwagte tyd van 12:00 in Voortrekkerweg afgekom.
Die eerste twee plekke het beide aan spanne uit Japan gegaan. (Tokai Universiteit eerste en Toshiba tweede) Die wenmotor, wat 'n beraamde R10 miljoen gekos het, het ten spyte van die bewolkte weer steeds 70% van sy batterykrag oorgehad.
Die inskrywing van die Universiteit van KwaZulu-Natal was derde, bykans twee ure na die eerste twee. Verskeie motors was slagoffers van die bewolkte weer en spanne moes langs die pad stilhou, die sonpanele afskroef en regop hou om die bietjie son wat daar was op te vang. 'n Paar se gô was heeltemal uit en hulle het die wenstreep op sleepwaentjies gehaal. Daar was altesaam 14 motors waarvan nege sonkragmotors was. Die ander vyf was prototipes wat aangedryf is deur bio-brandstof en batterye wat nie met sonkrag gelaai word nie.
Maandagoggend se vertrek het ook in die slag gebly as gevolg van bewolkte weer en die motors is op sleepwaens uit Oudtshoorn weg op die skof na Oos-Londen. Dit blyk dat die span van die Delhi Universiteit in Indië Maandagoggend gediskwalifiseer is nadat hulle nie ag geslaan het op waarskuwings dat hulle nie by regulasies hou nie.
Die wedren, wat twee weke gelede in Pretoria begin het en oor 5 400 km gestrek het eindig vandag weer in Pretoria.

Die laaste bietjie son word Sondagmiddag gebruik om batterye te laai.