OUDTSHOORN NUUS - As inwoners Donderdagoggend gedink het dis donderweer wat so dreun, sou hulle nie te ver verkeerd gewees het nie – meer as kragmotors wat aan die negende Thunder Tour deelneem, het die dorp binnegeval.
Die groep van 108 deelnemers van oor die land heen het Saterdag 5 Augustus in 66 brullende voertuie in Pretoria by die grootste motorskou in die land, weggespring.
Daarna is hulle via Bloemhof na Douglas en Victoria-Wes. Nadat hulle Woensdagaand in Oudtshoorn oornag het, het hulle Donderdagoggend by Smitswinkel saamgetrek waar inwoners kans gehad het om die interessante versameling kragtige voertuie en hul ewe kleurvolle eienaars te ontmoet. "As 'n mens 'n V8-enjin aanskakel, kom almal kyk wat aangaan," se Jakes van Staden, die "vader van die Thunder Tour".
Vanaf Oudtshoorn het die groep na George vertrek, waar hulle Saterdag die toer van vyf dae afgesluit het met 'n uitstalling tussen 12:00 tot 17:00 by die Garden Route Mall.
"Die Thunder Tour is geskoei op die voorbeeld van die Amerikaanse Power Tour waaraan vanjaar, in die 14de bestaanjaar, meer as 6 000 voertuie deelgeneem het," vertel Jakes. Sy vrou, Wilna reël die Thunder-toer en hul seun Storm en dogter Vlooi Hart, neem in hulle eie voertuie deel.
Vier verskillende kategorieë neem aan die Thunder Tour deel. "Streetrods, wat Amerikaanse voertuie is wat voor 1950 vervaardig is en wat met 'n Amerikaanse V8-enjin toegerus is," verduidelik Jakes. Die Amerikaanse enjins se brul is glo baie meer indrukwekkend as dié van Duitse en Japanese enjins.
Dan kry 'n mens ook Radrods – Rad verwys na "radical", wat beteken dis 'n Amerikaanse kar wat "net halfpad gebou is" en ook nie klaar gebou gaan raak nie.
Ernest Owen, wat vroeër jare aan die Rainbow en Tarlton Dragstrip deelgeneem het, by sy 1957 Ford Anglia, wat hy met 'n V8-enjin toegerus het.
En dan kry 'n mens 'n Muscle Car, wat verwys na "suiwer Amerikaanse enjinkrag", soos dié van 'n Mustang, en 'n Supercar, soos 'n Porche of GTR. Net Streetrods en Muscle Cars mag aan die Power Tour deelneem, maar hier is almal wat 'n brullende enjin besit, deel van 'n groot familie wat elke jaar aangroei. "Ons is 'n awesome klomp mense. Die brullende enjins is 'n groot gelykmaker, want dit maak nie saak hoe ryk of arm jy is nie, jou passie is deurslaggewend. Die enjins se geluid is vir ons the sound of music."
Volgens Jakes dra die toer ruim by tot die ekonomie van die klein plattelandse dorpies waar hulle deurry.
"Die grootste uitdaging is om in elke dorpie huisvesting te kry waar genoeg parkeerplek is. Hierdie groep mense is nie skaam om te spandeer nie: in een dorpie waar die kerk vir ons vetkoek en maalvleis gemaak het, het ons alles wat oorgebly het gekoop en aan 'n sorginstansie geskenk."
Vanjaar se Thunder Tour oor 2 800 km het hulle ook ten minste R300 000 se brandstof uit die sak gejaag.
Naas Wilna en Vlooi het nog vier vroue vanjaar in hul eie motors deelgeneem. Dit sluit Wallie van Schalkwyk van Rustenburg in, wat vanjaar vir die negende keer in haar 2010 California Special, regterstuur-Mustang Convertible deelgeneem het, en Mari Bodenstein van Pretoria in haar Chrysler C 300 SRT 8, in. "Ek geniet dit verskriklik baie, want ek kán," sê Mari.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'