OUDTSHOORN NUUS - Die koppe het verlede Donderdagmiddag behoorlik gedraai toe 12 bloedrooi Ferraris by TFASA (Test Flying Academy of South Africa) hul opwagting gemaak het.
Hierdie Italiaanse spogmotors vorm deel van die Tuinroete Ferrari-motorklub en het deur Oudtshoorn gery op pad Port Elizabeth toe waar hulle liefdadigheidswerk sal doen.
In die winderige stad sal hulle onder meer die publiek vir pretritte neem en ook Ferrari-memorabilia opveil met die winste wat aan gestremde- en mishandelde kinders sal gaan. Die eienaars van die Ferraris sal ook gevorderde bestuursopleiding by die Screbanti-renbaan ontvang.
Op die Saterdagaand het die klub ook 'n galaete gehou waartydens die nuutste Ferrari-motor in die land bekend gestel was. Een van die redes hoekom dié klub besluit het om by TFASA op Oudtshoorn aan te kom is omdat dit Cilliers Viljoen (lid van die klub) se voorneme is om een van TFASA se nuwe BlackShape-vliegtuie te koop.
Die luukse BlackShape-vliegtuig se oorsprong is soos die Ferrari ook van Italië.
Die Oudtshoorn Courant-joernalis het foto van twee Ferraris met 'n BlackShape-vliegtuig bokant hulle uit die lugruim geneem.
As gevolg van hierdie konneksie het die TFASA ook besluit om hierdie rooi monsters met een van die BlackShape-vliegtuie halfpad tussen George en Oudtshoorn te gaan haal en die dorp binne te lei.
Die Oudtshoorn Courant-joernalis, Wyndham Ewerts, het ook saam met een van TFASA se vliegtuie gevlieg om foto's van die pragtige Ferraris tesame met hul splinternuwe BlackShape-vliegtuie uit die lugruim te neem.
Oor sy vliegtuigrit het Ewerts gesê dat dit nogal uitdagend was om foto's uit die lug op daardie tipe hoogte en spoed te neem. "My bloed het ook behoorlik geruis omdat albei deure van die kajuit vir hierdie doeleindes afgehaal was.
Elke keer as ek moes uit leun om die foto's te neem het ek 'n vinnige skietgebedjie in my gedagtes opgesê wat my kalmeer het. Dit was nietemin 'n lekker adrenalien-ervaring wat ek verskriklik baie geniet het."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'