Video
MOTORNUUS EN VIDEO - Om 'n motor te restoureer is nie bloot 'n kwessie van onderdele en bakwerke koop, oordoen en aanmekaarsit nie. Dikwels, soos in die geval van 'n kunstenaar soos Greg Berghoff, beteken dit dat onderdele en 'n hele bakwerk met die hand gemaak word.
Berghoff, 'n voormalige vliegtuigingenieur, het reeds bykans 150 veteraanmotors gerestoureer.
Sy huidige projek is in samewerking met Koos Roets, bekende filmmaker van Klaarstroom en Frans Steenkamp, sakeman en boer van Klaarstroom.
Roets vertel hy het meer as 20 jaar gelede die onderstel en speekwiele van 'n 1937 Jaguar Special by 'n Jaguar-versamelaar naby Hartebeespoortdam gekoop. "Deur die jare het ek maar soos gewoonlik, rondgesnuffel en geleidelik onderdele en 'n enjin vir die kar opgespoor, maar ek kon nêrens 'n bakwerk kry nie."
En toe kruis sy paaie met Berghoff wat pas 'n 1948 Buick van 'n geroeste stuk skroot in 'n agterplaas, tot 'n pronkstuk vir Frans Steenkamp gerestoureer het.
Greg Berghoff by die 1948 Buick wat hy oor maande gerestoureer het.
"Greg is 'n ware kunstenaar en Frans het hom oorreed om permanent op Klaarstroom te kom bly sodat hy voltyds motors vir ons kan restoureer," sê Roets.
Met 'n besoek aan die plaas en werkswinkel op Klaarstroom, het Berghoff eers die pragtige Buick gewys en verduidelik dat hy sommige panele van die bakwerk asook die blink stroke wat op die deure pronk, met die hand gemaak het. Hy het die stoffering self gedoen en die enjin self, in die oorspronklike kleure van 'n nuwe Buick van 1948, oorgedoen. Met die tweede draai van die sleutel het die enjin seepglad begin loop.
Kyk 'n video hieronder
Maar, Berghoff se trots op die oomblik is die bakwerk van die 1937 Jaguar wat hy met die hand uit aluminium vervaardig. Net soos die oorspronklike motors word die aluminiumpanele met duisende klinknaels aanmekaargesit. Terwyl hy en sy twee helpers die panele maak, is Roets en Steenkamp deurentyd op die telefoon om vanoor letterlik die hele wêreld, onderdele te kry.
Kopligte, remme, vere, stuurkolomme en 'n swetterjoel ander onderdele word deur kontakte opgespoor en laat aflewer. Om die skaal van die bakwerk presies reg te kry gebruik Berghoff 'n skaalmodel van 'n Bugatti as 'n voorbeeld. Hy gaan ook self die sitplekke en paneelbord vervaardig.
Frans Steenkamp, Greg Berghoff en Koos Roets by die bakwerk van die 1937 Jaguar wat tans gerestoureer word. Foto's: Hannes Visser
Die motor behoort voor die einde van die jaar sy eerste rit deur Meiringspoort te onderneem. Roets meen dat die motor 'n topspoed van ongeveer 160km/h sal bereik.
En as die Jaguar klaar is?
Roets wys na nog drie projekte wat in Steenkamp se skuur staan en wag - nog 'n Buick, 'n Lotus en 'n bakkie uit die veertigerjare. "Hier is nog baie werk vir Greg," lag hy.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'