MOTOR NUUS - Verlede Saterdag, 26 Mei is nog 'n ronde van die SWD-kampioenskappe vir renmotors op die Arnold de Jager-ovaal afgehandel.
Vroegoggend was dit al oor die berg na Oudtshoorn toe vir 'n lekker middag van ovaalbaanaksie. Daar was ongeveer vyftig motors in sewe verskillende klasse ingeskryf.
Sommer in ál die klasse was die gort sommer vroeg gaar. Die Ontwikkelingsklas was 'n lekker stryd tussen die Golfies, met Niel Engelbrecht wat eindelik op die hoogste trappie gestaan het danksy sy Opel Corsa. In dié klas was daar ook 'n nuwe deelnemer, die jong Eugéne van der Merwe met sy Ford Fiesta. Hy het ronde na ronde vinniger gery en ons meen hier is 'n ster in wording.
Die 1660-Klas het ook lekker opwinding opgelewer met lekker wedywering tussen Izaan Keller met sy nuwe buisraam VW Golf, André Nel met sy vinnige Ford Fiesta en die verrassing, Burger van der Westhuizen, wat met 'n geleende VW Golf die manne in die hoogs mededingende klas kom aanvat het. In die derde uitdun was Van der Westhuizen goed geplaas, maar skielik ht hy na binne afgetrek en gestop.
Binne-in die motor het hy angswekende oomblikke beleef. Hy was in volle vaart op pad na die volgende draai toe die motor se stuurwiel in sy hand losgebree hetk. Hy het kop gehou en kon die Golf veilig binne op die gras stop - maar beslis met spierwit kiewe. Hy het egter die stuurwiel reggemaak en derde gekom in die klas.
Die 2,1-klas het weer vir groot opwinding gesorg met die terugkeer van die legendariese Neels van Rooyen in sy groen Kewer. Hy het die klas lekker kom omkeer tot hy in die derde uitdun sy Volla se enjin skouspelagtig sien opblaas het. Die brandweermanne moes vinnig spuit om die motor nie heeltemal te laat uitbrand nie. Die klas is deur Christopher Burisch in sy Opel Corsa gewen.
In die Hotrod-klas was ook volop aksie. Die heeldag was dit 'n stryd tussen Shaun Potgieter met sy pragtige Race Tech VW Scirocco en Sydney van Rensburg met sy Ford Fiesta. Leon Fouché was in 'n skitterende derde plek met sy mooi Renault Clio.
Anthony Oudtshoorn in sy motorfiets-aangedrewe pypkar. Foto's: François Germishuys.
Die Gemodifiseerde V8-klas het ook vir baie opwinding gesorg. Bennie Greyling was kookwater met sy Chev flexi. In die eerste uitdun het hy egter met die muur kennisgemaak en die Chev se onderstel beskadig.
Hy het teruggekom vir die tweede uitdun en dit gewen, maar in die derde uitdun het die gesweisde onderdele weer gebreek. Hy moes toe 'n voorsprong prysgee en die motor onttrek.
Die klas is daarna deur die drie ander Benver Chev's van Lodewyk Lotz, Pieter Combrink en Corné Martin oorheers.
Die Cross Cart-klas is oorheers deur Anthony Oudtshoorn met sy motorfiets-aangedrewe pypkar. Ek dink hulle moet 'n sementsak by hom inlaai om die speelveld vir die ander gelyk te maak!
Leon Fouché van Knysna het 'n puik derde plek in die Hotrod-klas behaal. INSERT: Anthony Oudtshoorn in sy motorfiets-aangedrewe pypkar.
• Die volgende byeenkoms is die Hot Rod-toer wat oor twee aande in die SWD aangebied sal word. Op Vrydag15 Junie begin die wedrenne om 19:00 in George en Saterdag 16 Junie om 15:00 in Oudtshoorn.
Kom kyk gerus na Suid-Afrika se vinnigste Hotrods. Vir navrae, kontak Charl Walters by 082 695 4833.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'