Gallery
GEORGE NUUS - Die eerste ronde van die SWD-ovaalbaankampioenskap vir 2018 is dieselfde naweek as die oumotorskou by George se ovaalbaan op die skouterrein afgehandel.
Baie inskrywings is ontvang en heelwat nuwe motors en renjaers het in verskeie klasse verskyn.
Ander motors weer het net nuwe baadjies vir 2018 gekry.
Ongelukkig het Bennie Greyling nog nie sy nuwe motor vir die Gemodifiseer-klas gereed gehad nie.
Greyling het gesê hy wil eers heeltemal aan die motor gewoond raak voordat hy dit vir wedrenne wil gebruik.
Hou AutoDealer gerus dop vir die amptelike bekendstelling van die motor.
Greyling het in een van sy ouer motors deelgeneem en die klas gewen.
In die Heavy Metal-klas was Corné Oosthuizen met sy splinternuwe linkerhandstuur-BMW op die baan. In dié klas het William Steyn ook sy man gestaan.
Dit was Steyn se heel eerste keer agter die stuur van 'n ovaalbaanrenmotor en hy het met sy BMW 'n skitterende derde plek behaal.
Hy het ook die prys ontvang vir die beste voorbereide renmotor van die aand. Glad nie sleg vir 'n nuweling nie!
Ook in die ander klasse was die gort sommer gou gaar.
Hier was ook 'n hele paar nuwe motors en motors met nuwe kleurskemas.
Die reën het egter net voor die laaste wedrenne van die aand kwaai uitgesak en klerk van die baan, Boet van Heerden, het besluit dat die baan té nat was om op te jaag.
Na omtrent 'n halfuur, het sowat twintig motors uit die kuipe die baan bietjie drooggery.
Lodewyk Lotz het 'n skitterende derde plek behaal met sy Chev V8 Flexi.
Daar is toe besluit om wel 'n eindwedren in elke klas te ry.
Dit sou egter nie vir die trofeë van die aand tel nie. Dit was reeds besluit dat die trofeë sou gaan aan die renjaers met die meeste punte in elke klas. Dus het min motors wel aan die laaste renne deelgeneem.
Die verrassing van die aand, was die laaste wedren van die Gemodifiseerde V8-klas.
Hier het Shaun Potgieter, gewilde hitsmotorjaer met sy VW Scirocco, agter die stuur van Bennie Greyling se V8 Chev ingeskuif, met Christopher Burisch, die 2,1-klas se ster, met sy bekende geel Opel Corsa, agter die stuur van Corné Martin se Chev V8.
Dit was lekker om dié twee manne agter die stuur van die V8-monsters te sien.
Die volgende wedren in die reeks se datum is voorlopig 10 Maart by George se skouterrein.
Mosselbaai se Vlieënde Spietkop - Wayne Skinner op pad na 'n tweede plek in die 1660-Klas met sy VW Golf.
Uitslae
Ontwikkelingsklas:
- Werner Heunis (VW Golf);
- Ivan Pitol (VW Golf);
- Johan Engelbrecht (Opel Corsa)
2,1-klas:
- Christopher Burisch (Opel Corsa);
- JP Kotzé (Ford Fiesta),
- Rietha Oosthuizen (VW Polo)
Heavy Metal-klas:
- André le Roux (BMW);
- André Keller (BMW),
- William Steyn (BMW)
1660-klas:
- André Nel (Ford Fiesta);
- Wayne Skinner (VW Golf);
- Robert Matthee (VW Polo)
Hitsmotorklas:
- Shaun Potgieter (VW Scirocco);
- Leon de Kock (Opel Tiga);
- André Fouché (Renault Clio)
V8-klas:
- Bennie Greyling (Chev Flexi);
- Marius Combrinck (Lexus Flexi);
- Lodewyk Lotz (Chev Flexi)
Cross Kart-klas:
- Anthony Oudtshoorn;
- Nel Vosloo;
- Waldo Oudtshoorn
Beste voorbereide motor: William Steyn
Bestuurder van die dag: Leon de Kock
Ongeluksvoël van die dag: Leon Hansen
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'