MOTOR NUUS - Mitsubishi se nuwe e-EVOLUTION-konsepmodel wat by die Tokio-motorskou onthul is, is 'n elektriese hoëverrigting-sportnuts wat die Mitsubishi Motorkorporasie (MMK) se nuwe slagspreuk "ry jou ambisie" verpersoonlik.
Die konsepmodel is 'n tegniese prototipe wat die strategiese rigting vir 'n nuwe MMK-handelsnaam aandui: avontuur en 'n progressiewe gedagtegang.
Die nuwe konsep berus op voordele 'n sportnuts en elektriese voertuig asook die vermoë om nuwe stelsels met mobiliteit te integreer.
Die MMK wil in die lig hiervan hul produkvernuwing versnel en meer nuwe modelle bekendstel.
Dit sal ook in Suid-Afrika plaasvind waar die kompakte Eclipse Cross-nutsmotor aanstaande jaar sy plaaslike buiging maak.
"Mitsubishi sal sy wêreldwye klantebasis deur tegnologiese vordering vergroot soos wat in die e-EVOLUTION-konsepmodel ten toon gestel word.
"Dit sal maar ook sy lojale gevolg in Suid-Afrika uitbrei," sê Nic Campbell, hoofbestuurder van Mitsubishi Motors Suid-Afrika (MMSA).
Die ontwerpfilosofie van Mitsubishi Motors met die bekendstelling van sy e-EVOLUTION-konsepmodel is "robuust en geniaal".
Die teenstelling dui aan dat voertuie in die toekoms werklik taai en funksioneel sal wees, maar terselfdertyd vindingryk, stylvol en tegnologies gevorderd.
ONTWERP
Die MMK het 'n lang erfenis. Dink maar aan die legendariese Mitsubishi Pajero, 'n standaard vir veldry en die oorspronklike veelvuldige Dakar-kampioen.
Die nuwe voertuig se ontwerp wys die voertuig is oorgehaal om met al vier wiele aan die grond te klou met die ratsheid van hoë verrigting waarmee 'n mens die wêreld kan verken.
Die ontwerp aan die voorkant van die e-EVOLUTION is 'n vars benadering van die maatskappy se Dynamic Shield-ontwerp.
Die swart sierrooster wat agter glas versteek is, dui daarop dat hierdie motor 'n hoëverrigtingvoertuig met elektriese aandrywing is.
Kameras en sensors word onder glas beskerm en deur blou lyne beklemtoon. Groot luginlate onder die kopligte verkoel die elektriese remknypers.
Die baie skuins windskerm en kort oorhange gee die konsepmodel 'n unieke syaansig wat nie voor die koms van elektriese aandrywing moontlik was nie.
Die hoë posisie bo die grond, kort oorhange, fris skouers en smal heupe sorg dat die voertuig behendig en rats lyk. Prominente bande wat in al vier hoeke uitsteek, dra die kragtige wringkrag deur al vier wiele oor.
Die e-EVOLUTION word deur drie sterk elektriese motors aangedryf en die afwesigheid van 'n groot binnebrandenjin onder die enjinkap het die ontwerpers ruimte vir 'n vindingryke nuwe kajuit gegee.
Dit lyk asof die instrumentepaneel voor die bestuurder sweef. Die paneel, wat soos 'n elektroniese aanwysing van 'n kamera lyk, sal dit maklik maak om te ervaar hoe die voertuig in beweging voel.
TEGNOLOGIE
Die e-EVOLUTION gebruik drie elektriese hoëverrigtingmotors wat deur 'n hoëkapasiteitbatterystelsel gevoer word.
Dit beloof uiters lewendige verrigting wat elektries- aangedrewe voertuie onderskei van tradisionele brandstofvoertuie.
Die batterye is onder die vloer in die middel van die voertuig, wat 'n lae swaartekragpunt en goeie vasvoetigheid sal bevorder.
Die vierwiel gedrewe stelsel met drie motors gebruik een motor om die voorwiele aan te dryf.
Dit word deur die nuwe aktiewe swaaibeheerstelsel wat die twee agterste motors aan mekaar koppel, aangevul.
Dit word by die dinamiese voertuigbeheerstelsel vir aandrywing deur al vier wiele (S-AWC) ingeskakel.
Of 'n mens in stadsverkeer, op die oop pad of met kronkelpaaie ry, bied die voertuig skerp hantering wat die bestuurder se voorneme getrou uitvoer.
Die brein van die e-EVOLUTION is 'n stelsel met kunsmatige intelligensie (AI) wat die bestuurder aanvul.
'n Magdom sensors laat die AI-stelsel voortdurend monitor watse verandering in pad- en verkeerstoestande voorkom.
Dit hou ook 'n ogie oor die bestuurder se gedrag.
Die stelsel sorg dat die bestuurder se bewegings ongemerk by die voertuig aanpas en is beplan vir alle soorte bestuurders.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'