GEORGE NUUS - Hennie Lichthart van Albertinia het 'n hele paar ou motors. AutoDealer het onlangs meer vertel oor sy mooi blou bakkie, 'n 1948 Chevrolet Master, wat op Riversdal in die vertoonvenster van 'n motorhawe langs die N2 gebêre word.
Hy is ook die trotse eienaar van nog sewe ander ou voertuie, onder meer 'n 1935 Ford V8 wat soos die meeste van sy ander ou voertuie in Albertinia-inwoners se motorhuise gebêre word.
Hy het die Ford voertuig in 2007 by die 80-jarige Japie van Rooyen van Groot-Brakrivier gekoop. "Oom Japie het die voertuig in 2000 van Tallie Taljaard van die Kaap gekoop wat dit vir hom gerestoureer het."
Kyk hoe maak die deur verkeerdom oop in vergelyking met vandag se karre.
Die voertuig was op 'n sleepwa op pad terug na Van Rooyen se huis na afloop van die George-oumotorskou in 2004 toe dit in 'n ongeluk op die lughawepad betrokke was. "Die voertuig het van die sleepwa afgeval," vertel Lichthart. "Die hele motor het seergekry. Ek het verskriklik baie werk daaraan gedoen. Ek het 'n nuwe dak opgesit en die onderstel herbou." Die meganiese onderdele, die bekleedsel en die instrumente was onbeskadig en hy kon dit net so oordra op die herstelde onderstel.
Die binnekant is nog oorspronlik. Die voorruit kan oopskroef.
Vissie Visser het gehelp met die meganiese werk, terwyl Willem Taute en sy regterhand Melvin (Tand) Riddles die paneelklopwerk gedoen het.
"Die voertuig is in Amerika deur die mafia gebruik, want die voorruit kan oopskroef vir die geweerlope om deur te steek. Ek het nou die dag so een in 'n fliek op TV gesien," sê Lichthart.
Hennie Lichthart met sy ander liefde - koekoekhorlosies.
Sy liefde om met ou motors te peuter kom van kindsdae af. "Ons het op Jacobsdal in die Vrystaat grootgeword, maar vakansies by Buffelsbaai deurgebring," vertel hy. "Toe ek so 11 jaar oud was, het ek op 'n keer saam met twee vriende en hul ma na 'n Carry On-fliek op Knysna gaan kyk. Op pad terug Buffelsbaai toe het hul voertuig langs die pad gaan staan. Die twee maats, wat omtrent net so oud soos ek was, het uitgeklim, die enjinkap oopgemaak, die vonkverdeler uitgehaal, die rotor uitgehaal en met 'n stukkie papier weer vasgesit - en daar gaat ons. Dit was blykbaar 'n ou laai van die kar. Ek kon my oë nie glo nie. Ek was baie beïndruk en die saadjie was geplant."
Die agteraansig van die voertuig.
Die liefde vir ou voertuie is verder versterk deur die 1957 Chevrolet Bel-Air waarmee sy pa destyds gery het. In 'n vertoonkassie in sy huis is net so een 'met die vlerkies' soos wat sy pa gehad het.
Vandag is die voertuig een van die gewildste versamelaars-items, vertel hy.
Na skool het hy duinebesies (beach buggies) gekoop, omgebou en verkoop. Destyds het hy in die bankwese op Prins Albert gewerk. Sy ouers het toe op Oudtshoorn gewoon, asook die liefde van sy lewe, Johanna, wat daar skoolgehou het.
Lichthart se pa het met so 'n Chevrolet Bel Air gery en daar het sy liefde vir ou karre ontstaan."Gedurende die twee jaar wat ek op Prins Albert gewoon het, het ek met my 1976 Volkswagen Beetle 1600 altesaam 416 keer oor die Swartbergpas Oudtshoorn toe gery." Gedurende die week het hy vir Johanna laat weet watter onderdele sy moet koop sodat hy naweke wanneer hy op Oudtshoorn kom kuier, verder aan die duinebesies kon bou.
Kyk die speekwiele. Mooi, nê.
Die 1935 Ford V8 is een van sy geliefkoosde motors. "Hy ry die lekkerste van almal, maar ek ry nie dikwels met die een of die ander nie. Dis baie moeite, want hulle is diep gebêre. Dis ook baie gewild as troukar en vir matriekafskeidsgeleenthede, maar dis ook baie moeite, want elke keer moet hulle gewas en poleer word."
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'