GEORGE MOTORNUUS - Plaaslike renjaer, Juan van Rensburg van George het tydens die onlangse Jaguar Simola Hillclimb toeskouers en organiseerders beïndruk met sy vernuf agter die stuur van sy geleende 2015 Jaguar F-Type R tydens die klas A7-kategorie.
Van Rensburg het met sy derde plek die 1,9 km heuwel in 47,333 sekondes afgelê en verseker dat net Jaguar-jaers die podium volstaan. Hy was kort op die hakke van die gedugte Cronjé-broers, Gavin en Mark.
Gavin het, met 'n tyd van 45,096 sekondes, was net drie tiendes van 'n sekonde vinniger as sy ouer broer, Mark.
Autodealer korrespondent, Francois Germishuys, vertel meer van Juan van Rensburg se prestasie:
Verlede Donderdag, 'n dag na die verkiesing, het ek en Juan gou by die Kontrei Padstal by Sasol Hiway in George oor ’n koppie koffie gesels oor sy ervarings by die 2019 Jaguar Simola Hillclimb. Buite het die omstanders en petroljoggies saamgedrom om die Jaguar en hulle oë was groot toe Juan vir hulle die V8-enjin laat brul.
Die afgelope dekade is daar een familie wat elke jaar in die kuipe is, en dit is die Van Rensburg-familie van George. Pa Nico, ma Sandra en hulle twee seuns, Julian, wat sy voorliefde om ou motors te restoureer uitleef, en sy jonger broer, die renjaer, Juan.
Nico is al jare aktief op SA se renbane in verskillende klasse en rygoed en elke jaar is die familie ook in een of ander klas betrokke by Simola.
Juan van Rensburg maak gereed om die 1,9 km-heuwel aan te durf met sy Jaguar F-TYPE R.
Hierdie jaar was pa Nico in die historiese gedeelte die Vrydag in klas H6 betrokke met sy bekende 1974 VW Scirocco. In die nat weer kon Nico 'n skitterende derde plek, met 'n tyd van 55,084 vir die 1,9 km heuwel in sy klas behaal. En dit teen motors wat 'n miljoen rand plus kos.
Toe kom Saterdag - die King of the Hill Shootout. Dié gedeelte is oor twee dae uitgeveg, met oefenlope en kwalifiseringslope, waarna die toptien in elke klas meegeding het om 'n wenner in elke klas te bepaal.
In die kuipe was George se top-1660-ovaalbaanjaer Juan van Rensburg, maar dié jaar neem hy deel in 'n geleende 2015 Jaguar F-Type R. Juan het privaat ingeskryf, nie as deel van die Jaguar fabrieksinskrywings nie. Dit het gevolg na Juan die motor se eienaar, Wally Bergman, spottenderwys gevra het of hy nie dalk vir hom 'n voertuig het om in deel te neem nie. Gou het Bergman gesien die jong man is eintlik ernstig en die koeël was deur die kerk. Dit was Juan se eerste poging in die heuwelren in 'n agterwiel-aangedrewe motor, en dan nog so 'n kragtige kat daarby!J
Hy het deelgeneem in klas A7, saam met twee ingevoerde vierwielaangedrewe Jaguar F-Type SVR's wat in die hande was van die twee bekende Cronjé-broers, Mark en Gavin. Ook het hy teen 'n veel duurder Mercedes GTR AMG en 'n Mclaren MP4 12C deelgeneem.
Die trofee wat Juan van Rensburg gewen het vir sy derde plek in Klas A7.
Tydens die hele naweek was die ganse Van Rensburg-gesin Juan se ondersteuningspan. Nico het gesorg dat Juan die nodige inligting en raad kry, Julian het gesorg dat die videokameras reg opgestel is in die motor, en Sandra en Juan se metgesel, Sharisma Moolman, het gesorg dat die hele span se magies vol bly en hul dors geles word.
Toe die Jaguar-fabriekspan agterkom hulle het 'n kans om eerste, tweede en derde plek in klas A7 te verower, het hulle gebruikte bande vir Juan beskikbaar gestel, waarmee hy toe die skitterende derde plek behaal het.
Juan het van die begin af beïndruk. Die manier waarop hy die Jaguar hanteer het, het almal laat besef dat hy nie alleen 'n voorwielaangedrewe Polo op ovaalbane kan rondgooi nie, maar ook 'n monster van 'n V8 agterwiel-aangedrewe Jaguar op teer kan baasraak. By een geleentheid het die Jaguar dwars deur die draaie gekom, natuurlik tot groot vermaak van die toeskouers en kommentators, en steeds was Juan in beheer met 'n skittertyd. George is trots op Juan en die hele Van Rensburg-gesin.
Dié jong jaer sal nooit ophou droom nie en wat 2020 betref - wie weet? Miskien het iemand met invloed Juan se talent raakgesien, en kan hy met 'n vinniger voertuig die podium nog hoër bestyg.
Trots staan die Jaguar F-TYPE R by Sasol Hi Way en wag vir voggies in die tenk.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'