MOTORNUUS - Graham Davies van Jongensfontein het nie gereken 'n Chev Bel Air is regtig soveel om oor huis toe te skryf nie, tot hy een bestuur het.
Na 'n paar kilometer se langpad agter die stuur van 'n vriend se 1957 Bel Air, was die koeël deur die kerk. Hy moes 'n paar jaar wag voor hy die trotse eienaar van dié motor kon word, maar nou verruil hy die vuurwa vir niks ter wêreld nie, sê hy.
Davies vertel hy het die vriend van hom na 'n 1957 Bel Air help soek. Hy het een in Britstown opgespoor en die twee het op 'n verkenningstog vertrek.
Die binnekant van die motor is nog heeltemal oorspronklik.
Na 'n tweede besoek is die voertuig gekoop en hy het help terug bestuur. Toe hulle Leeu Gamka bereik het die versoeking te groot geword en Davies het voet neergesit. Sy vriend se Mercedes het in die truspieëltjie verdwyn en dis toe wat hy besef het dat hy dié Chev verkeerd opgesom het.
Tuis aangekom het hy 'n reg op eerste weiering gevra indien sy vriend teen die transaksie sou besluit, maar dit sou ses jaar duur voor sy droom bewaarheid is.
Davies glo dat klassieke motors oorspronklik gehou moet word. Sy Chev het 104 000 myl gedoen en die enjin is nog nooit oopgemaak nie. Die bekleedsel, matte en verfwerk is ook alles net soos dit uit die fabriek gekom het. Hy ry gereeld met die Chev en onderhoud word getrou gedoen. Verskeie Chev-restoureerders het al by hom kers opgesteek om eerstehands te kyk hoe die statige ou motors gebou is.
Die verfwerk is nog net soos toe die Chev uit die fabriek gekom het.
Sy gunsteling motor bly egter 'n Borgward en hy vertel graag van die gereelde kompetisies in die klub waaraan hy behoort. Hulle reël selfs geleenthede waar lede mekaar se Borgwards op versoek kan kritiseer. Dit lei tot 'n verhoging in kennis en standaard van die motors. Vir hom is die soektog na oorspronklike onderdele en die kennismaking met nuwe vriende as gevolg daarvan die kersie op die koek van sy motorstokperdjie.
Davies het die hart van 'n ware versamelaar. Onder sy gewaardeerde vloot tel Duitse, Engelse, Amerikaanse, Franse en Italiaanse motors. Toe spasie 'n probleem begin word, het hy staanplek in die Outeniqua-vervoermuseum in George gehuur. Hy verhuur ook spasie aan ander eienaars sonder om enige wins daaruit te maak, want hy beskou dit as 'n werkende museum en moedig eienaars aan om hul motors te gebruik.
''Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'