Video
TUINROETE | KAROO NUUS & VIDEO - Zeus van Wyngaardt is 'n vlymskerp speurder met 'n donker, droë humorsin, 'n oog vir 'n mooi vrou en - anders as soveel ander fiktiewe baasspeurders - nie 'n alkoholis of geheelonthouer nie. Hy vat soms 'n dop, en dan en wan selfs 'n dop te veel.
Zeus is kompleks, maar nie wanaangepas nie en die leser hou uit die staanspoor van hierdie oopkop, ietwat skamerige man.
Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag, Julio Agrella se debuut misdaadroman, hou die leser vasgenael tot Zeus uiteindelik die vreemde legkaart se stukkies perfek inmekaar laat pas. Die prentjie wat dan vorendag kom vang jou onkant en laat jou met nuwe oë na die karakters kyk ... individue met donker geheime wat soos gode dobbelstene rondgooi.
In die Griekse mitologie is Zeus die god van hemel en donder. As die Griekse hoofgod word hy dikwels uitgebeeld as 'n ouer man met 'n welige baard - net soos Agrella, maar die skrywer ontken dat sy protagonis op homself geskoei is.
"Nee goeiste, Zeus is baie jonger, mooier en slimmer as ek," stry Agrella, wat op 'n plasie by Dieprivier in die Outeniekwas woon.
En ja, in die boek is Zeus net 39 jaar oud en skoongeskeer, maar kom oorspronklik van Springs, nes sy skepper.
Agrella het egter al 11 jaar gelede die korporatiewe wêreld vaarwel geroep en met sy vrou, Susan, 'n Springbok-skermkunstenaar, van Kaapstad na die Tuinroete verhuis. Hulle seun Julio jr, 'n sjef wat in Frankryk gekwalifiseer het, bedryf 'n huisrestaurant, Bistro Celeiro op die plaas - natuurlik met sy ouers wat flink assisteer.
Tussen al die bistro- en plaaswerk skryf Agrella in die klein ure van die nag kortverhale, limerieke, poësie en nou ook, gelukkig, speurverhale.
Die grootste deel van Zeus se soeke na die waarheid speel dan ook in die Tuinroete en Klein-Karoo af en plaaslike lesers sal talle van die plekke ken.
Kyk 'n video hieronder.
Selfs George Herald het 'n klein rolletjie in Agrella se boek.
Op die keersy van die roman sê die bekroonde skrywer Riana Scheepers, 'n inwoner van Wilderness: "Zeus van Wyngaardt is nie 'n mitologiese god nie. Zeus is sinies, sardonies en soms gesuip. Maar einste Zeus is ook meedoënloos, viriel en baie, baie snaaks ..."
Verder som die uitgewer, Protea Boekehuis, Agrella se debuutroman as volg op: "Privaat speurder Zeus van Wyngaardt sou nooit kon droom dat 'n godin soos Diana Engelbrecht (sy naam is Zeus, hy ken godinne) op 'n dag by sy gehawende kantoor in Springs sou instap nie. Haar opdrag: Vind die vermiste Esias Kok. Zeus besef gou agter elke storie is daar baie stories, en dié godin is dalk nie wat sy voorgee om te wees nie. Soos wat hy elke spoor begin volg, vervaag die grense tussen die reële en die digitale wêreld, oortreder en slagoffer, skuld en onskuld … 'n Boek wat die leser sal skok, sal laat lag met die donker humor daarvan, en aan die raai sal hou tot die einde."
Agrella self rig die volgende boodskap aan sy lesers: "Die meeste van die plekke in die boek bestaan werklik. Die mense bestaan net in die skrywer se kop. As jy jouself of iemand anders herken, gaan soek dringend hulp."
En lesers se boodskap aan Agrella? "Ons wag in spanning vir Zeus om sy volgende raaisel te ontknoop. Maak asseblief gou."
Die Griekse mitologiese god, Zeus.
Zeus van Wyngaardt en die godin van die jag is in boekwinkels of aanlyn te koop. Van Agrella se ander skryfwerk is beskikbaar op sy blog https://julioagrella.wordpress.com/author/julioagrella/.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo nuus'