Streeklanddros Mark van Wyngaardt het die twee verlede Vrydag 8 Augustus, skuldig bevind nadat hulle op al die klagtes teen hulle skuldig gepleit het. Edward en sy pa is verlede jaar onderskeidelik in Oktober en November in hegtenis geneem op klagtes van bedrog.
Edward is in Oktober buite Oudtshoorn saam met sy vrou voorgekeer terwyl hull twee motors wat hulle in Port Elizabeth gaan haal het hier en in George probeer verkoop het. Die saak rakende die twee motors sowel as Hyundai-bussies wat in Port Elizabeth gekoop is en nie betaal is nie, moet nog in die Oos-Kaap voorkom en vorm nie deel van Edward Zaayman se skuldigbevindings Vrydag nie.
Daniël Zaayman is sowat 'n week na Edward in Oudtshoorn in hegtenis geneem terwyl hy op 'n bus onderweg was na Mosselbaai om sy vrou te besoek. Pa en seun is in aanhouding sedert hulle arrestasie aangesien hulle aansoeke om borgtog onsuksesvol was.
Vrydag se skulderkenning het, soos vele van die Zaaymans se voorvalle, ook nie sonder 'n aanloop plaasgevind nie. Die twee se bedrieëry in 2012 en 2013 is gekenmerk deur wolhaarstories en dit lyk of dit weer die geval was kort voor hulle pleitooreenkoms.
Beide die ondersoekbeampte en die Oudtshoorn Courant het voor Vrydag oproepe ontvang van 'n vrou wat haar as een van die klaagsters voorgedoen het. Sy het gesê dat sy haar klag teruggetrek het.
Die oproep was vreemd aangesien die spe-sifieke klaagster die een is wat die Oudtshoorn Courant verlede jaar in Februarie op die spoor van die twee bedrieërs geplaas het en verantwoordelik was vir die aanvanklike beriggewing wat die bedrogspul oopgevlek het.
Die ondersoekbeampte het bevestig dat die klaagster nie die oproepe gemaak het nie en beslis nie haar saak wou terugtrek nie. Dit blyk dat die Zaaymans, volgens hulle aanvanklike pleitooreenkoms wat Vrydag ingedien sou word nie op hierdie spesifieke klag skuldig wou pleit nie. Na samesprekings tussen die ondersoekbeampte, die staat en die Zaaymans se prokureur, is die pleitooreenkoms Vrydagoggend aangepas en teen ongeveer halftwaalf aan die hof voorgelê.
Daniël Zaayman het skuldig gepleit op 23 klagtes van bedrog. (Klagtes 1,2, 7 tot 22 en 29 tot 33) Op van die klagtes is hy en Edward mede-beskuldigdes. Van die klagtes waarop hy skuldig gepleit het, het motortransaksies en klagtes dat hy hom as 'n koerier en as prokureur voorgedoen het ingesluit. Landdros Mark van Wyngaardt het sy pleit aanvaar en hom skuldig bevind op al die klagtes.
Op sy beurt het Edward Zaayman skuldig gepleit op 20 klagtes van bedrog (Klagtes 1 tot 7, 20 tot 28 en 30 tot 33) waarvan sy pa in sommiges ook die medebeskuldigde was. Van die klagtes het verskeie motortransaksies en die verkoop van motoronderdele wat nooit bestaan het nie, ingesluit.
Hy het onder andere ook skuldig gepleit op 'n klag waarvolgens hy sy eie skoonouers met R30 000 en paaiemente vir 'n fiktiewe motorhuurkoop bedrieg het. Streeklanddros Van Wyngaardt het sy pleit ook aanvaar en hom op al die klagtes skuldig bevind.
Hulle kom weer op 8 September voor die streekhof vir vonnisoplegging. Tydens die vonnisverhoor sal die staat getuienis roep ter vonnisverswaring.
Die twee se prokureur, Wentzel Botha, het die hof meegedeel dat hy wag op verslae van die proefbeampte wat hy met die vonnisverhoor wil voorlê.
Hy het gesê dat Daniël Zaayman 'n mediese probleem het en dat Edward Zaayman 'n seuntjie het waaroor hy besorg is en dat die verslae om die redes nodig is.
Klik hier vir 'n vorige nuusflits.

Daniël Zaayman is skuldig bevind op 23 klagtes van bedrog.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'