OUDTSHOORN NUUS - Die munisipale bestuurder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Walter Hendricks, is op 16 September, tydens 'n raadsvergadering geskors en 'n nuwe waarnemende munisipale bestuurder is in dieselfde vergadering aangestel.
Die burgemeester, Johan Allers, het verlede week in 'n mediaverklaring ten opsigte van Hendricks se skorsing gesê hy verwelkom die beslissing wat Woensdag 16 Oktober in die George-hooggeregshof geneem is.
"Die aansoek deur die munisipale bestuurder, Walter Hendricks, om sy skorsing ter syde te stel is van die hofrol geskrap, met koste. Dit bring 'n einde aan sy pogings om sy skorsing op verskeie aanklagte van ernstige wangedrag ter syde te laat stel."
Volgens Allers het die uitspraak die algemene standpunt bevestig dat die regering van plaaslike eenheid reg was om Hendricks op skorsing te plaas. Allers het ook gesê dat die munisipaliteit binnekort met die proses sal begin om sy regskoste in die saak te verhaal.
Hy noem ook dat die munisipaliteit skriftelike bevestiging van die kantoor van die LUR vir plaaslike regering in die provinsie, Anton Bredell, ontvang het dat hy saamstem met die aanstelling van Mkhukuli Yekani as waarnemende munisipale bestuurder in die plek van Hendricks.
'n Betroubare bron het Donderdag egter gesê dat Hendricks nie die skorsing beveg het nie.
Luidens die bron het Hendricks net 'n brief ontvang waarin hy van sy skorsing ingelig is, maar daar is nooit aan hom redes verskaf nie.
Die bron verduidelik dat die wet sê dat redes aangevoer moet word wat verduidelik waarom die seniorbestuurder gedurende die skorsing by die huis moet bly, in plaas daarvan om by die werk te wees terwyl die proses aan die gang is. Die implikasie is dat die persoon wat geskors is, sowel as die persoon wat waarnemend aangestel is, salarisse verdien. Volgens die bron was Hendricks nie hiermee tevrede nie.
Hendricks het kort na sy skorsing in September aan Oudtshoorn Courant gesê dat daar 11 klagtes teen hom is, maar dat daar nie aan die brief wat aan hom gerig was oor die klagtes uitgebrei was nie. Hy het dus nie geweet wat die klagtes teen hom was nie, bloot dat daar 11 klagtes teen hom was.
Hendricks is toe sewe dae kennis gegee om op die klagtes te reageer, maar hy het gevra dat die raad hom meer duidelikheid gee oor van die klagtes teen hom. "Dit is egter nie gedoen nie, en kon ek nie volledig op die klagtes teen my reageer nie."
Hy het ook gesê dat hy besig was om met sy prokureur oor die aangeleentheid te gesels.
Woutel Kriel, Bredell se woordvoerder, het gesê dat Bredell na noukeurige beoordeling van die aanstelling deur die raad en die bestudering van Yekani se CV besluit het om hom as waarnemende munisipale bestuurder vir drie maande (16 September tot 15 Desember) aan te stel.
"Yekani beskik oor die toepaslike wetgewende voorskrifte."
Oor die proses van die aanstelling van 'n munisipale bestuurder het Kriel gesê: "Die aanstelling van 'n munisipale bestuurder word gereguleer ingevolge artikel 54A van die Munisipale Stelselswet, 32 van 2000 (die Wet), saamgelees met die Regulasies oor Aanstelling en Diensvoorwaardes van Senior Bestuurders (“Aanstellingsregulasies”) en Munisipale Regulasies oor Minimum bevoegdheidsvlakke."
Volgens hom moet daar 'n werwings- en keuringsprosedures gevolg word soos uiteengesit in die “Aanstellingsregulasies” wanneer 'n munsipaliteit 'n munisipale bestuurder aanstel, en ook voldoen aan die munisipale regulasies oor minimum bevoegdheidsvlakke.
"Met betrekking tot die aanstelling van 'n waarnemende munisipale bestuurder kan die munisipale raad 'n waarnemende munisipale bestuurder aanstel vir 'n tydperk solank dit nie 'n tydperk van drie maande oorskry nie. Ingevolge die toepaslike wetgewende voorskrif kan 'n munisipale raad in spesiale omstandighede en met gegronde redes skriftelik by die LUR vir Plaaslike Regering aansoek doen om die aanstellingstydperk vir 'n verdere tydperk wat nie drie maande oorskry nie, te verleng. In sulke gevalle moet die posbekleër aan die minimum voorgeskrewe vereistes voldoen om as óf munisipale bestuurder óf waarnemende munisipale bestuurder aangestel te word."
Oor waarom Hendricks nooit formeel oor die aard van die klagtes teen hom ingelig nie, maar net ingelig is dat daar 11 klagtes teen hom is hetKriel gesê: "Die dissiplinêr van mnr. Hendricks is 'n interne aangeleentheid en enige verdere navrae in verband daarmee kan by Oudtshoorn Munisipaliteit gevra word."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’