OUDTSHOORN NUUS - Sewe jaar ná sy debuut-digbundel, Die jaar toe Pa, keer die digter en voormalige Oudtshoorn Courant-redakteur Hannes Visser terug met ’n nuwe bundel wat diep delf in die broosheid en betekenis van menswees.
Sy tweede digbundel, tussen asem, het onlangs op die rakke verskyn.
Visser het sy eerste voorlesing uit die bundel onlangs in George by Exclusive Books aangebied en beplan om binnekort ook ’n bekendstelling in Oudtshoorn by die Neelsie te hou.
Die jaar toe pa ... het uitstekende resensies ontvang en Visser sê hy is opgewonde oor die nuwe bundel, maar ook effens senuagtig omdat dit met die eerste een vergelyk gaan word.
Volgens Visser spruit die inspirasie vir die bundel uit die laaste woorde van sy kunstenaarsvriend, wyle Lourens Oosthuizen: “My heel eerste asem was onafwendbaar die begin van my heel laaste asem.”
Die bundel fokus op die asem van die lewe, nie net as begin en einde nie, maar ook op die reis tussenin. Die werk is in drie afdelings verdeel: Eerste asem, Asemhaal en Laaste asem, waarin Visser besin oor temas soos verlies, vreugde, geboorte, dood en die gedeelde menslike ervaring wat tussen mense se lewensasems afspeel.
’n Besonderse hoogtepunt wag tydens die Prins Albert-leesfees, waar Visser saam met die bekende operasanger Danie Verster sal optree.
“Wat my verras het was toe Danie my laat weet hy het van my gedigte aan Ben Oosthuizen, ’n bekende musiekopvoeder en komponis gewys. Ben het agt van die gedigte getoonset en dit sal tydens die Leesfees deur hom en Danie opgevoer word terwyl ek tussenin van die gedigte voorlees en van die stories vertel.”
Oosthuizen is ’n gerekende Suid-Afrikaanse musiekopvoeder en musikant wat in 2023 afgetree het as direkteur van musiek by St John's College in Johannesburg ná 37 jaar diens.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’