Update
OUDTSHOORN NUSU - Die Oudtsoorn reWOLusie se eerste kleurvolle wolbom het Saterdagmiddag bo-oor Langenhovenweg gebars.
Ongeveer 400 gehekelde stroke waaraan sowat 150 vlytiges gehekel het, is Saterdag tussen 13:00 en 15:00 aan die reëlings van die voetbrug by die Oudtshoorn Vaardigheidskool aangebring.
Die Oudtshoorn reWOLusie is vanjaar met die KKNK aan inwoners en besoekers bekendgestel toe tientalle gehekelde kunswerke op verskeie plekke in die dorp aangebring is.
Die hekelwerk wat na die kunstefees afgehaal is, word gebruik om komberse mee te maak wat aan behoeftiges gegee word. Toe reeds het die organiseerder, Madelein Miles, aangedui dat reWOLusie 2020 nog groter gaan wees en dat daar na 'n moontlike rekord gemik gaan word. In aanloop tot volgende jaar se projek het sowat 150 mense die afgelope maand die naalde en vingers laat woel om die voetbrug te versier.
Die kleurvolle brug oor Langenhovenweg.
Volgens Miles het hulle op die voetbrug besluit omdat dit deur elke besoeker en inwoner gesien kan word en ook omdat dit slegs leerders van die Vaardigheidskool is wat die brug gebruik en die hekelwerk nie sommer beskadig of verwyder sal word nie.
Die kleurvolle stroke gaan op die brug bly tot met die KKNK in 2020 waarna dit ook gebruik sal word vir 'n kombersprojek.
Die voetbrug was Saterdagmiddag 'n miernes van helpers wat hekelstroke aan die relings vasgemaak het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'