TUINROETE | KAROO NUUS - Die somer is om die draai, en daarmee saam kom die gees van jovialiteit, maar die seisoen vra ook omsigtigheid op verskeie fronte.
Volgens Monique Mortlock-Malgas, woordvoerder van LUR Sharna Fernandez, departement van maatskaplike ontwikkeling, implementeer die Wes-Kaapse regering (WKR) planne voor die somerseisoen om te verseker dat hy die toepaslike versagtingsmaatreëls in plek het om te help indien rampe, soos brande, sou plaasvind.
"Klein of groot brande in gebiede soos informele nedersettings het die grootste impak op die mees kwesbares in die samelewing, insluitend kinders, bejaardes en persone met gestremdhede. Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) het onvermoeid gewerk om te verseker dat sy somergereedheidsprogramme regoor die provinsie in werking is.
Sy sê die departement sal nou saamwerk met ander regeringsinstansies om die impak van rampe op kwesbare groepe te versag. In die geval van 'n ramp, is DMO-spanne bereid om psigososiale ondersteuningsdienste te lewer waar nodig, terwyl hulle saam met vennoot-NRO's werk vir die verskaffing van humanitêre noodleniging.
Die somer bring ook 'n toestroming van mense na strande regoor die provinsie.
“Dit lei gewoonlik tot hoë voorvalle van kinders wat vermis raak of deur hul ouers of versorgers in die steek gelaat word ná 'n dag op die strand. Ons sien dit jaar na jaar in die feestyd gebeur, en dit is eenvoudig onaanvaarbaar. Wanneer kinders by strande vergeet word, bied DMO-maatskaplike werkers in vennootskap met munisipaliteite soos die Stad Kaapstad ondersteuning en verseker dat hulle veilig geplaas word totdat hulle met hul gesinne herenig kan word. Ek doen 'n beroep op ouers en versorgers om kinders fyn dop te hou, veral rondom watermassas en digbevolkte gebiede,” sê provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez.
Daar is ook die risiko van 'n hoë voorkoms van dwelmgebruik gedurende dié tydperk, wat lei tot 'n toename in die vraag na dienste vir dwelmgebruikversteuring.
“Wees asseblief verantwoordelik en soek hulp voordat jy gebruik maak van middels wat skadelik vir jou gesondheid kan wees. As jy 'n geliefde het wat met dwelmmisbruik sukkel, wees waaksaam vir tekens van terugval gedurende hierdie tydperk, aangesien dit 'n moeilike tyd kan wees vir diegene wat reeds kwesbaar is,” adviseer Fernandez.
Nuttige kontaknommers:
- Geslagsgebaseerde geweld-bevelsentrum: Skakel 0800 428 428 of skakel *120*786#
- Kinderlyn: 116
- Stop geslagsgeweld-hulplyn: 0800 150 150
- SAPD: 08600 10111
- Rapporteer enige mishandeling van kinders, vroue, bejaardes of enige ander kwesbare persoon by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se tolvrynommer: 0800 220 250.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’