"Jongmense is vir die Wes-Kaapse regering van kardinale belang. Daarom is ons al vir meer as 14 dae op die pad, en reik ons uit na gemeenskappe om veral werklose jongmense van hulp te wees."
So vertel Jason August, projekbestuurder van die Mobiele e-Sentrum van die Wes-Kaapse regering wat die kleinste hoekie van die Wes-Kaap wil bereik.
Hierdie luukse bus is toegerus met ten minste agt rekenaars en toegang tot die internet en 'n hoë volume drukker.
Met die 'e-Sentrum op Wiele' is August en sy span se hoofdoelwit om digitale geletterdheid onder jongmense te verbeter met die fokus op diep landelike gebiede waar toegang tot digitale dienste en tegnologie steeds beperk is.
Jongmense ontvang ook gratis opleiding in die samestelling van 'n effektiewe curriculum vitae.
"Jou CV spreek boekdele en kan jou werkgewer al 'n mening van jou persoonlik-heid en ywer laat vorm, voordat hy jou ontmoet het."
Jongmense het vir die twee dae wat die bus in Ladismith sal wees toegang tot gratis internet, rekenaaropleiding en -ondersteuning, toegang tot sosiale media en opgeleide personeel is byderhand om te help met take soos die opstel van CV's, navigasie op die web en die skep van e-posadresse, om te verseker dat gebruikers die beskikbare hulpbronne ten beste benut.
Die e-Sentrum is toeganklik vir mense met gestremdhede, en beskik oor 'n syklep en afdak vir bykomende werkstasies en skuiling.
Die bus was Dinsdag in Sakkiesbaai gestasioneer, maar August het onderneem om dit die volgende dag na 'n meer sentrale punt in Nissenville te neem. Die moontlikheid om die dienste in Nissenville met nog 'n dag te verleng is nie uitgesluit nie, sou die behoefte dit regverdig.
Die span is ondersteun deur lede van die nie-winsgewende organisasie, Oasis, in Ladismith.
Daar is ook 'n onderneming van die departement maatskaplike dienste in die beplanning om binnekort in die Ladismith-stadsaal dienste soos aanskaffing van identiteitsdokumente, voltooiing van SARS-dokumentasie en nog ander dienste aan die gemeenskap te verskaf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’