Update
OUDTSHOORN NUUS - Die bouwerk van die langverwagte winkel-sentrum in Bridgton op die oop stuk grond langs Bridgton-kliniek het Maandag in alle erns begin.
Volgens Rutger Boshoff, die ontwikkelaar van Somerset-Wes aan wie die tender onlangs toegeken is, sal fase 1 van die nuwe winkelsentrum sowat 2 000 vierkante meter beslaan teen 'n koste van R30 miljoen.
Boshoff sê dat die beoogde Shoprite-gebou, tesame met drie ander winkels plus drie kitsbanke teen Desember vanjaar voltooi behoort te wees.
"Op die oomblik wag ons vir ander huurders om kontrakte vas te maak. Daar sal natuurlik ook voorsiening gemaak word vir informele stalletjies waar plaaslike inwoners hul produkte kan uitstal. Die tweede fase van die bouwerk sal afhang van die belangstelling. Voor Covid-19 was daar baie navrae, maar ongelukkig leef ons nou in moeiliker omstandighede."
Boshoff het die versekering gegee dat slegs plaaslike werkers oorweeg sal word vir die konstruksie van die geboue.
"Slegs ware ambagsmanne wat in die onmiddellike area woon kan ons kom sien. Daar moet net in ag geneem word dat daar net soveel werk is, so net 'n beperkte aantal werkers kan in diens geneem word. As die beoogde winkels goed doen, sal ons spoedig begin om die hele oop stuk grond te ontwikkel. Inwoners kan ook verseker wees van uitstekende sekuriteit by die winkelsentrum. Ek het geen twyfel dat hierdie bouprojek die potensiaal het om een van Oudtshoorn se groot sakekerns te wees nie," het Boshoff gesê.
Wat werksgeleenthede betref, het Boshoff gesê, dat Shoprite en die ander besighede nader aan die tyd eers aansoeke sal aanvaar. Hy sal Oudtshoorn Courant op hoogte hou wat die inligting dan aan die publiek sal deurgee.
Intussen beteken dit die einde van vlakkiekrieket op Mandelapark soos die oop stuk grond onder die gemeenskap en krieketliefhebbers bekendgestaan het.
"Die bouwerk bring definitief 'n einde aan 'n roemryke era wat oor baie jare strek. Ons gaan die oop stuk grond waaroor ons daagliks so heen en weer geloop en naweke krieket gespeel het baie mis.
Maar aan die ander kant het ons geweet dat dit eendag sou gebeur.
Die positiewe is dat die nuwe ontwikkeling broodnodige werk vir ons skep en ook noodsaaklike winkels nader aan die oumense bring," het een van die inwoners opgemerk.
Enige plaaslike belangstellende entrepreneurs kan Boshoff by 082 747 9084 skakel of e-pos by rutger@boscor.co.za.
Vorige artikel: Bridgton se Winkelsentrum uiteindelik hier
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'