OUDTSHOORN NUUS - Die ontwikkeling van Klein Karoo Markt op die hoek van Langenhovenweg en Rademeyerstraat gaan definitief voort. So sê Leon Lategan, mede-ontwikkelaar van die sentrum.
Volgens hom is daar baie geld spandeer om die 100- en 200-jaar vloedlyne te bepaal en om inligting in te samel om die watervloei ensomeer te bepaal.
"Daar is geweldig baie navorsing wat hierin gegaan het, en die vloed kon nie op 'n beter tyd gebeur het nie. Al wat dit hier bewys het, is dat ons navorsing korrek was en dat die struktuur geen skade gaan lei as daar 'n vloed is nie. Die water is nog nie eens by die 100-jaar vloedlyn nie.
"Daar is nog nie stormwaterpype vir dreinering gelê nie, en tans is ons ook besig om 'n leivoor (culvert) te bou om watervloei in sulke omstandighede te verbeter. Die voor het met die reën verstop as gevolg van 'n band wat teen die uitloop vasgespoel het, en dit het die ophoop van die water baie erger gemaak as wat dit sou wees. Ons is ook besig om die grondvlak te lig en die proses is nog nie voltooi nie."
Volgens hom sit die vloed die bouwerk met 'n paar dae terug, maar nie met veel nie.
"Die bouers kan net nie klaarmaak waarmee hulle besig was tot die grond reg droog is nie, maar die werk word nou net anders geprioritiseer en gaan hulle solank aan met die ander werk."
Lategan sê volgens die navorsing wat gedoen is, het daar met die week se reën meer water geval in drie dae as in 1907 en is die vloed erger as die 1996 vloed.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’