OUDTSHOORN NUUS - 'n Munisipale werker sterk tans in die hospitaal aan nadat sy hand verlede Saterdag deur 'n masjien by die Dysselsdorp-rioolaanleg afgeruk is.
Die werker, John Jansen, het met 'n suiwe-ringsmasjien gewerk wat onoplosbare stowwe van die rioolwater skei. Dit is onduidelik hoe die voorval gebeur het.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het gesê die voorval het om ongeveer 13:00 gebeur.
"Die werker is na die voorval per ambulans na die hospitaal geneem. Hy ontvang steeds mediese behandeling en 'n interne ondersoek is deur die munisipaliteit gelas. Die werker ontvang ook berading deur die munisipale welstanddienste," het hy gesê.
Volgens inligting wat bekom is, het Jansen 'n operasie ondergaan. Die Oudtshoorn Courant het Dinsdag gepoog om Jansen se familie in Dysselsdorp te kontak, maar kon nie daarin slaag nie.
Verdere inligting oor sy toestand was teen druktyd nie beskikbaar nie.
ARTIKEL & FOTO: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'