OUDTSHOORN NUUS - Op 3 Desember word Wêreld Gestremdheidsdag herdenk om bewusmaking te skep rondom gestremdheid en uitdaging wat die persone daagliks in die gesig staar.
Hierdie dag het as mikpunt die bevordering van kwessies aangaande gestremdheid, die regte van persone wat gestremd is en die inskakeling van persone met gestremdhede in elke aspekte van die politieke, sosiale, ekonomiese en kulturele lewe van hulle gemeenskappe.
Dit verskaf 'n geleentheid aan individue en gemeenskappe om deel te neem aan aktiwiteite wat bedoel is om 'n inklusiewe omgewing te skep vir mense met gestremdhede. Tans is daar ongeveer 3.4% van die bevolking van die Wes-Kaap wat met 'n gestremdheid saam lewe.
Die Oudtshoorn Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD), Oudtshoorn-polisie, Oudtshoorn ACVV, en die departemente van sport en kultuursake en maatskaplike dienste het Dinsdag 3 Desember by die De Jager-sportkompleks 'n speletjieprogram aangebied vir plaaslike gestremdes van Oudtshoorn en Dysselsdorp.
Esmarelda Grootboom het tydens haar kort toespraak die uitdagings wat gestremdes daagliks ervaar uitgewys.
"Van die grootste uitdagings is om depressie te vermy, selfvertroue te bou en veral om in die arbeidsmark te staan."
Statistieke
• Daar is ongeveer 3 miljoen mense in Suid-Afrika met een of ander vorm van gestremdheid.
• Volgens die Verenigde Nasies is 23.1% van persone met gestremdhede baie arm en meestal in moeilike situasies.
• Wêreldwyd is daar sowat 500 miljoen mense met een of ander vorm van gestremdheid.
• Na raming gebruik sowat 1.6 miljoen Suid-Afrikaners gebaretaal as hul eerste taal.
• Volgens die 2016 Gemeenskapsopname het die Wes-Kaap provinsie die laagste voorkoms van gestremdheid in Suid-Afrika gehad. Die Wes-Kaap se voorkomssyfer was 5,4%. 'n Gemeenskapstudie in Oudtshoorn, het egter 'n gestremdheidsvoorkomskoers van 6,8% gevind. Hierdie koers was hoër as die Wes-Kaap se voorkomssyfer, maar vergelykbaar met provinsies met minder hulpbronne.
• Die nasionale ongeskiktheidsvoorkomskoers is 7,5%. Gestremdheid is meer algemeen by vroue as by mans (8,3% en 6,5% onderskeidelik).
• Gestremdheidsvoorkoms neem toe met ouderdom, met meer as die helfte van mense van 85+ wat 'n gestremdheid rapporteer.
• 11% van mense van vyf jaar en ouer het sigprobleme, 4,2% het kognitiewe probleme, 3,6% het gehoorprobleme en ongeveer 2% het kommunikasie-, selfversorgings- en loopprobleme.
• Huishoudings onder leiding van mense met gestremdhede het minder toegang tot basiese dienste as huishoudings onder leiding van mense sonder gestremdhede.
• Die voorkoms van siggestremdheid was die hoogste (32%), gevolg deur fisiese gestremdheid (30%), gehoor (20%), emosionele gestremdheid (16%), intellektuele gestremdheid (12%) en kommunikasiegestremdheid (7%).