OUDTSHOORN NUUS - Met die opheffing van die verbod op besoeke aan strande, riviere, damme en swembaddens, is waterveiligheid vir veral kinders uiters belangrik.
Meer as 600 kinders verdrink elke jaar en nog meer word gestremd gelaat as gevolg van nie-noodlottige-verdrinkings. Kinders swem ook dikwels sonder toesig sê Caville Abrahams, waterveiligheidsinstrukteur van die NSRI. Statistieke wys ook dat meer as 50% van alle verdrinkings, naby die ouerhuis plaasvind.
Abrahams het die volgende wenke gedeel:
- Ouers moet vir hul kinders van kleins af leer dat hulle nooit alleen naby water mag speel nie. Kinders kan selfs in 4cm water verdrink.
- Leë houers wat water opvang, moet bedek wees of buite bereik van kinders wees. Kleuters is nuuskierig en kan baie maklik in so 'n houer val en verdrink. Visdammetjies, fonteintjies, toilette, slote en groot waterbakke van diere is enkele voorbeelde waarin kinders al verdrink het.
- Indien daar 'n swembad by die huis is, maak seker dat alle deure en hekke na die swembad behoorlik kan sluit.
- Gebruik ook 'n veiligheidsnet wat aan veiligheidstandaarde voldoen.
- Sorg dat daar nooit speelgoed naby die swembad lê wat dalk in die water kan val en die kind water toe lok om die speelding uit te haal nie.
- Maak seker jou selfoon is gelaai, sodat jy dit tydens 'n noodgeval kan gebruik, maar moenie dat dit jou aandag aftrek terwyl kinders in of naby water onder jou toesig is nie.
- Moet nooit jou kinders alleen naby water laat nie.
- Leer hoe om kunsmatige asemhaling in 'n noodgevl toe te pas en memoriseer jou plaaslike noodnommer.
Gratis waterveiligheidslesse
Skole en instansies is welkom om vir Caville Abrahams by 071 8719 664 te kontak of stuur 'n e-pos na caville@searescue.org.za vir gratis waterveiligheidslesse.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'