OUDTSHOORN NUUS - As deel van Kinderbeskermingweek, van 29 Mei tot 5 Junie, het Oudtshoorn-polisie en plaaslike wetstoepassing saam met Daantjie Kat onderskeie skole in die dorp besoek om die klem op kinderbeskerming te plaas, en om padveiligheid by die kleinspan tuis te bring.
In Suid-Afrika word Kinderbeskermingsweek jaarliks aan die begin van Junie gevier. Dis nie net ’n tyd van bewusmaking nie, dit is ’n morele en wetlike oproep tot aksie.
Hierdie nasionale veldtog herinner ons daaraan dat kinders nie hulself teen mishandeling, verwaarlosing of uitbuiting kan beskerm nie.
Daarom dra almal: ouers, onderwysers, gemeenskapslede ’n verantwoordelikheid om beskermers van kinders te wees.
Die wet aan kinders se kant
Kinderbeskerming is nie net ’n morele saak nie, dit is ook diep gewortel in wetgewing. Verskeie wette in Suid-Afrika plaas ’n wettige verpligting op alle volwassenes om kinders te beskerm: Die Kinderwet (Wet 38 van 2005) beklemtoon die beste belang van die kind in elke besluit wat hulle raak.
Die Grondwet verseker die reg van elke kind op veiligheid, gesondheid, opvoeding en ontwikkeling.
Die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van die Kind (UNCRC) plaas kinders se belange eerste op internasionale vlak.
As ’n onderwyser, ouer of gemeenskapslid kan jy dus wettig aanspreeklik gehou word as jy versuim om mishandeling aan te meld of op te tree wanneer jy vermoed iets is verkeerd.
Waarom is Kinderbeskerming so belangrik?
Hoewel Suid-Afrika groot vordering gemaak het in die bevordering van kinderregte, bly die statistiek kommerwekkend.
- Kinders word steeds blootgestel aan huislike geweld, selfs as hulle nie self die slagoffers is nie.
- Seksuele misbruik van kinders, dikwels deur mense wat hulle ken, bly ’n stille epidemie.
- Verwaarlosing waar kinders se basiese behoeftes soos voeding, klere, liefde of toesig nie nagekom word nie, is endemies in gemeenskappe wat sukkel met armoede.
- Trauma, as gevolg van geweld of verlies, het ’n direkte impak op kinders se ontwikkeling en leervermoë.
Meld vermoedens van mishandeling aan by:
Childline SA: 08000 55 555
SAPD: 10111
Volgens Monique Mortlock-Malgas, mediawoordvoerder departement sosiale dienste, is daar verskillende maniere om toegang tot DSD-dienste in Oudtshoorn te verkry.
- Oudtshoorn plaaslike kantoor: Seppie Greeff-gebou, Voortrekkerweg, Oudtshoorn, 6620 - 044 814 2131
- Bel die DSD tolvrynommer: 0800 220 250 of stuur ’n e-pos na SD.CustomerCare@westerncape.gov.za
- Eden Karoo streekkantoor: Tel: 044 814 1687; e-posadres: DSDEdenKaroo.Enquiries@westerncape.gov.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’