OUDTSHOORN NUUS - Dit is weer daardie tyd van die jaar dat slange uit hulle sluimerslaap kom en aktief raak. Die afgelope weke is Mornay Thysse van die brandweer se hulp verskeie kere ingeroep om slange uit huise en sakepersele te verwyder.
Dit blyk dat veral Kaapse kobras mense op hol jaag. Paddas en muise is slange se natuurlike kos en omdat die diertjies dikwels in tuine is, is slange ook teenwoordig.
Dit is tans paarseisoen waartydens slange meer agressief is.
Thysse het die volgende wenke aan die hand gedoen indien ‘n slang teëgekom word:
• Bly kalm as jy ‘n slang gewaar
• Alhoewel daar verskeie onskadelike slange is, is dit raadsaam om enige slang as potensieel giftig te beskou.
• Moenie probeer om die slang self te vang of dood te maak nie aangesien hy homself sal verdedig
• Kry kinders, familie en troeteldiere weg van die slang as n veiligheidsmaatreel, en moenie nader as 3m aan die slang gaan nie.
• Skakel die onderstaande noodnommer om die slang aan te meld
• Hou die slang vanaf ‘n veilige afstand dop om te bepaal min of meer waar hy hom bevind as die slangvanger opdaag.
• Hou in gedagte dat die slang waarskynlik bedreig sal voel en sy voorneme sal wees om weg te beweeg van enige beweging na die naaste en veiligste donker plek.
• Indien jy deur ‘n slang gepik word kry onmiddelik mediese hulp, bly kalm en beweeg so min as moontlik.
• As jy nie die slang kan identifiseer nie probeer ‘n foto neem vir moontlike identifikasie deur die dokter.
• Moenie die wond sny, suig, ys op sit of elektriese skok toepas nie.
• Daar is ‘n aantal giftige slange in die Klein Karoo waarvan die Kaapse kobra die gevaarlikste is en dringende mediese sorg vereis aangesien sy gif vinnig versprei en tot asemhalingsprobleme kan lei.
• As jy in n gebied woon waar slange gereeld voorkom is dit n goeie idee om ‘n slang bewusmakingskursus te doen wat basiese noodhulp in geval van slangbyte insluit.
Lees 'n vorige artikel: Man kry kobra in sy bed
NOODNOMMERS: Skakel die brandweer by 044 203 3147 of 044 203 7800 Hierdie nommerts is 24 uur beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'