OUDTSHOORN NUUS - Tussen 2010 en 2017 het daar 33 verdrinkings in die Oudtshoorn omgewing plaasgevind en 1 437 in die hele Wes-Kaap. Meer as 30% van hierdie drenkelinge (446) was kinders jonger as 15 waarvan 195 vier jaar en jonger was.
Die meeste verdrinkings wêreldwyd, en ook in die Wes-Kaap, is kinders jonger as vyf.
En kinders verdrink nie net in swembaddens nie – ‘n paar sentimeter water in ‘n bad, skottel of emmer is genoeg om te lei tot ‘n tragedie wat voorkom kan word.
Derhalwe is waterveiligheid by huise een van die aspekte waaraan ouers deurgaans moet aandag gee.
In landelike gebiede soos die Klein-Karoo, hou oop water soos riviere, kanale, waterslote en putte en waterhouers soos emmers, baddens en skottels in en om die huis, gevaar in vir kinders.
Die grootste oorsaak van kinderverdrinkings blyk gebrekkige toesig deur die persoon wat die kind moet oppas, te wees. So ‘n persoon se aandag hoef net ‘n oomblik lank afgelei te word, soos byvoorbeeld deur ‘n selfoon, om ‘n tragedie te veroorsaak.
Hoe kan jy ‘n tragedie voorkom?
- Maak die bad, skottel of emmer leeg direk nadat jy dit gebruik het vir bad en skottelgoed- of wasgoedwas.
- Sorg dat deksels van houers met water in behoorlik toe is.
- Draai leë skottels of emmers wat buite gehou word, onderstebo om te voorkom dat reënwater daarin opgevang word.
- Sorg dat kinders nie sonder toesig by ‘n put, poel, kanaal of rivier kan uitkom nie.
- Maak die toilet se deksel toe.
- Moet nooit ‘n kind sonder toesig in of naby water laat nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'