DE RUST-NUUS - Die waterval in Meiringspoort, sowel as die stilhou- en badkamergeriewe in die poort is sedert die verspoelings en oorstromings vanjaar gesluit.
Dit het onder Oudtshoorn Courant se aandag gekom na toeriste hieroor gekla het omdat geen kennisgewing daaroor ontvang is nie en niemand vooraf gewaarsku is nie. Daar heers ook kommer oor die opkomende Meiringspoort-halfmarathon wat jaarliks in die poort gehou word en toeriste en atlete van oor die land lok.
Corleen Barnard, bestuurder van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, het gesê dat hulle nie kennis ontvang het van die sluiting van die geriewe by die poort of die sluiting van die waterval nie.
Volgens Jandré Bakker, hoof van kommunikasie, hoofdirektoraat: strategiese bestuur en operasionele ondersteuning van die departement van infrastruktuur van die Wes-Kaapse regering, het die departement reeds op 21 Junie 2024 'n openbare verklaring uitgereik, ondersteun deur aanlyn kennisgewing van die sluiting van alle fasiliteite in die poort.
In die verklaring staan daar:
"Meiringspoort is 'n Wêrelderfenisgebied en is baie gewild onder plaaslike en internasionale toeriste. Dit is jammer om die publiek in te lig dat alle rusareas vir die publiek gesluit bly weens ernstige skade wat aan hierdie areas opgedoen is. Aansienlike permanente herstelwerk word vereis."
Hy verduidelik dat die Meiringspoort-pad so ontwerp is om die styging van water bo-oor 'n versperring toe te laat.
"Dit het verseker dat geen groot strukturele skade aan die hoofwegstrukture is nie. Weens abnormale hoë riviervloei het die padoppervlak skade opgedoen. Herstelwerk aan die padoppervlak is gedoen in die toestand waar dit veilig is om te reis," het hy verduidelik.
Volgens Bakker word herstelwerk op 'n prioriteitsbasis gedoen soos hulpbronne dit toelaat.
"Ons prioriteit bly om eers toegang te verskaf en dan om ten volle te herstel."
Die skade in die poort is astronomies.
Halfmarathon
Bakker sê wat die Meiringspoort-halfmarathon betref, is die pad veilig vir hardlopers indien hulle hardloop terwyl hulle die nodige omsigtigheid aan die dag lê wat verband hou met hardloop op enige pad.
"Die organiseerders sal mobiele toilette vir deelnemers moet voorsien. Die sluiting beïnvloed dus nie die aanbieding van genoemde geleentheid nie."
Waterval
Wat die sluiting van die waterval betref, verduidelik hy, dat die sluiting van die rusareas geen veilige parkeeropsies laat nie en dat infrastruktuur wat na die valle gelei het, ook skade opgedoen het wat toegang in hierdie stadium onveilig gelaat het.
Volgens hom sal skade hopelik teen die Desember-bouersonderbreking afgehandel wees.
Skade oorskry R1,8 miljard
"Die provinsiale minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, het onlangs op vrae van die Wes-Kaapse provinsiale wetgewer staande komitee oor infrastruktuur gereageer dat skade aan die padnetwerk R1,8 miljard oorskry het. Terwyl die provinsiale tesourie met R350 miljoen gehelp het, is dit nie naastenby genoeg om die herstelwerk aan te spreek nie en die departement moet sy hulpbronne herprioritiseer om eers kritieke infrastruktuur te probeer herstel. Die hoofprioriteit bly die verskaffing van toegang. Die departement van infrastruktuur kan bevestig dat 'n kontrakteur aangestel is om aan Meiringspoort te werk en die perseel in September 2024 sal vestig. "
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’