OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n boer van die Kammanassie-distrik, wat daarvan aangekla word dat hy die waterwet oortree het, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof vir die tik van dokumente in Engels uitgestel.
Die staat beweer dat Ebon le Roux (44) tussen 2016 en 2017 wederregtelik en opsetlik water uit die Kammanassierivier gebruik het op 'n wyse anders as wat toegelaat word.
Die alternatiewe klagtes is dat hy water gebruik het teenstrydig met die voorwaardes deur dit uit die rivier te pomp vir besproeiingsdoeleindes asook nadelige beïnvloeding van die waterbron deur weder-regtelik en opsetlik water uit die rivier te pomp.
Die staatsaanklaer, Brendon Smith, het die hof vir uitstel gevra sodat dokumente wat tans in Afrikaans is na Engels oorgetik kan word.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is uitgestel tot 18 Junie.
Die beskuldigde is op waarskuwing vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'