Update
LADISMITH NUUS - Inwoners en boere van die Ladismith-omgewing was verheug toe 'n konvooi van 32 voertuie met lewensmiddele Saterdag 10 April, die dorp binnegery het.
Die konvooi was een van die talle projekte wat landwyd deur SA Water Warriors van stapel gestuur word.
Die voertuie het vanaf George, die Kaap en Gauteng gekom om water en ander broodnodige lewensmiddele, wat deur vrywilligers geskenk is, af te lewer.
Deon Smit, stigter van Water Warriors het aan die media genoem dat hulle oproepe en e-posse van boere uit die omgewing ontvang het, waarin die nood van families uitgelig is. Hulle het binne twee maande die uitreik beplan waarin hulle beoog het om ten minste 150 families te help.
Die skenkings het 150 lusernbale, 15 ton mielies, 30 000 liter water en derduisende rande se kruideniersware ingesluit.
Vrywilligers het die vervoerkoste self gedra en as 'n blyk van waardering het 'n vulstasie in Ladismith, Reinders Garage, ook 'n bedrag vir brandstof bewillig. Geskenkpakkies met basiese benodigdhede vir vroue en kindergeskenke is ook uitgedeel.
Terwyl die skenkings aan Ladismithers oorhandig word, het Smit gesê beplanning vir 'n ander projek elders in die land is reeds aan die gang. Mense wat enige skenking, hoe gering ook al wil maak, kan hom persoonlik op Facebook kontak of South African Water Warriors se Facebook-blad besoek.
Houers met drinkwater word in Ladismith afgelaai. Foto's: Deon Meyer
Een van die vragmotors wat voorraad na Ladismith geneem het. Foto's: Deon Meyer
Die terrein waar die voorraad afgelewer is.
Vorige artikel: Water Warriors bring verligting na Ladismith
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'